OOS-KAAP. – Die polisie ondersoek twee afsonderlike voorvalle waarin twee studente van die Walter Sisulu-universiteit (WSU) die afgelope naweek in beweerde fratsongelukke dood is. Tydens een voorval het ‘n mikrogolfoond met kos glo ontplof en in ‘n ander is ‘n student glo beseer deur glasskerwe van ‘n gebreekte bottel.
‘n Vroulike student (22) het Sondagmiddag by Calypso Gardens in Haven Hills gesterf. Volgens voorlopige inligting het sy kos in foelie in ’n mikrogolf probeer gaarmaak toe dit ontplof en ’n brand veroorsaak het. Sy het brandwonde opgedoen en vermoedelik weens rookinaseming gesterf.
‘n Manlike student (19) is Saterdagoggend vroeg by Chris Hani Park in Mthatha dood aangetref. Daar word beweer hy was vanaf ‘n taverne op pad huis toe, toe hy glo op nat grond gegly en in glasskerwe, afkomstig van die bottel wat hy by hom gehad het, geval het. Dit het ‘n ernstige wond aan sy been veroorsaak en hy het hom glo dood gebloei.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê albei sake word tans as geregtelike ondersoeke hanteer om die presiese oorsake van die studente se dood vas te stel. Geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie en die polisie sê geen getuies het nog na vore gekom nie.





