LIMPOPO. – Die polisie ondersoek drie afsonderlike sake oor beweerde seksuele misdrywe teen kinders in die Lulekani-, Thohoyandou- en Vuwani-polisiëringsgebiede. Vier kinders tussen 12 en 14 jaar oud is by die sake betrokke.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie in Lulekani ondersoek ’n saak van statutêre verkragting nadat ’n 12-jarige meisie swanger bevind is. Volgens die polisie het haar skool haar ma vroeër die maand vir ’n gesprek ontbied en haar oor die swangerskap ingelig. Die meisie het na bewering aan haar ma gesê dat sy sedert Januarie seksueel by ’n 25-jarige man betrokke was. Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het die ondersoek oorgeneem.
In Thohoyandou ondersoek die polisie ’n saak van gedwonge verkragting ná ’n voorval op 11 November waarby twee seuns van 12 en 13 jaar oud betrokke was. Volgens die polisie het ’n 15-jarige seun hulle na bewering gedreig en tot seksuele handelinge gedwing. Die familie van een van die seuns het die voorval by die polisie aangemeld nadat hulle van ’n video-opname daarvan bewus geword het.
Die polisie in Vuwani ondersoek ’n tweede saak wat hulle as statutêre verkragting beskryf nadat ’n 14-jarige meisie se swangerskap op 17 November in ’n hospitaal bevestig is. Sy het volgens die polisie aan haar ma gesê dat sy in April seks mét haar toestemming met haar 17-jarige kêrel gehad het. In albei sake waar die verdagtes minderjarig is, vorm ’n assessering deur ’n proefbeampte deel van die ondersoek.
Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie.
Maj.genl. Lesiba Mashilo, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die voorvalle veroordeel en ouers, voogde, skole en gemeenskappe gevra om vermeende mishandeling by die polisie aan te meld.