VRYSTAAT. – Die polisie in Bloemfontein het ’n soektog na verdagtes geloods ná twee aparte voorvalle oor die naweek waar drie vroue met skietwonde dood in die Bloemspruit- en Namibia Square-gebiede gevind is.
Sers. Mahlomola Kareli en lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerders, sê die eerste voorval het Saterdag in Meadowsstraat, Springfield plaasgevind. ’n Veiligheidsbeampte het die liggaam van ’n vrou, vermoedelik in haar middel 30’s, gevind. Sy het drie skietwonde, aan haar slaap, agter haar regteroor en aan haar bors opgedoen. Drie patroondoppe is op die toneel gevind. Die vrou het ‘n blou denimbroek, ’n geel gestreepte kortmoutrui en wit Fila-seilskoene aangehad. ’n Moordsaak is by die Bloemspruit-polisiestasie geopen. Die polisie vra dat enigiemand met inligting lt.kol. Rankhala David Ramasoala by 082 527 7390 kan bel.
’n Tweede en derde voorval het Sondagoggend kort voor 02:00 in Namibia Square plaasgevind. Lede van die Bloemspruit-misdaadvoorkomingseenheid het twee vroue gevind wat op die grond naby ’n woning gelê het. Beide vroue, vermoedelik in hulle laat 20’s, het skietwonde aan die agterkant van hulle koppe opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Een het ’n ligblou denimbroek met ‘n groen kappiebaadjie aangehad en die ander ’n blou denimhemp met ‘n swart denimbroek. Enigiemand met inligting kan speur.sers. Machalosa van die provinsiale moord- en roofeenheid by 073 729 1732 bel.
Die identiteite van al drie die vroue is steeds onbekend, aangesien geen identifikasie op die toneel gevind is nie. Die motief vir die moorde word tans ondersoek en nog niemand is in hegtenis geneem nie.





