Polisie ondersoek brandstigting ná brand by Paarl-hospitaal – verdagte in aanhouding

Lees ook :

Foto's: Drakenstein Munisipaliteit

WES-KAAP. – Paarl-speurders ondersoek ’n saak van brandstigting ná ’n brand wat Dinsdag omstreeks 11:00 by die Paarl-hospitaal uitgebreek het. ’n 35-jarige man is in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Luidens ‘n verklaring van konst. Ndakhe Gwala is die verdagte eers ondervra en daarna aangehou. Die verdagte sal na verwagting Donderdag in die Paarl-landdroshof verskyn. Geen beserings is aangemeld nie en alle pasiënte is veilig uit die gebou ontruim. Omstandighede van die voorval word ondersoek.

Die brand is Dinsdag vinnig onder beheer gebring. Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het aan Nuusflits bevestig dat vroeë aanduidings daarop dui dat ’n voertuig wat langs die gebou geparkeer was, aan die brand geslaan het, waarna die vlamme na die hospitaalstruktuur versprei het. Dit lyk asof ‘n vullisdrom aan die brand gesteek is en die brand daarna na geparkeerde motors en na die gebou versprei het.

Robyn Thomson, woordvoerder vir die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, het gesê rookverpreiding het die volledige ontruiming van die fasiliteit as ’n voorsorgmaatreël genoodsaak. Pasiënte is veilig verskuif en kliniese dienste word geleidelik hervat soos dele van die hospitaal beoordeel en veilig verklaar word.

Die buitepasiënte-afdeling het omvangryke skade opgedoen, terwyl kraampasiënte na ander gesondheidsfasiliteite oorgeplaas is om voortgesette sorg te verseker. Die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, Mireille Wenger, het bevestig dat die veiligheid van pasiënte, personeel en besoekers die hoogste prioriteit was en dat pogings nou daarop gefokus is om dienste so vinnig en veilig moontlik te herstel.

Verdere opdaterings sal verskaf word soos meer inligting beskikbaar raak.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief