VRYSTAAT. – ‘n Boer (56) is glo Sondagaand op ‘n plaas naby Clocolan in ‘n gewelddadige roof deur drie verdagtes oorval, vasgebind en gesteek. Die Clocolan-polisie het ‘n soektog na die verdagtes geloods.
Luidens ‘n verklaring van sers. Mahlomola Kareli het die boer kort voor 18:00 by sy huis aangekom en uit sy wit Toyota bakkie geklim om ’n pap band te ondersoek. Hy is na bewering toe deur drie onbekende mans, gewapen met ’n vuurwapen, ’n mes en ’n houtstok, oorval. Hulle het hom na bewering aangerand en die huis inforseer, waar geld geëis is. Die boer is daarna gedwing om sy kluis oop te maak, waarna verskeie vuurwapens – ‘n Baby Browning-pistool, ‘n rewolwer en ‘n haelgeweer – gebuit is. Hy is vasgebind, waarna die verdagtes in sy BMW gevlug het. Die slagoffer kon homself later bevry en hulp ontbied. Hy is vir die steekwond aan sy duim in ‘n plaaslike hospitaal behandel en is sedertdien ontslaan.
Die BMW is later verlate langs die R708 naby Clocolan gevind.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om AO Thabang Mbele by 079 760 9530 te bel.





