NOORDWES. – Die polisie in Potchefstroom vra die publiek om te help om ’n verdagte op te spoor nadat ’n 52-jarige vrou in die vroeë oggendure van Sondag 30 Augustus in haar nuwe huis oorval en verkrag is. Die verdagte word beskryf as ’n lang, donkerkleurige man tussen 20 en 30 jaar oud met donker oë en dreadlocks bo-op sy kop. Sy hare is kort aan die kante en hy het glo Engels gepraat.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Adéle Myburgh, het die onbekende man deur ’n gebreekte venster toegang tot die woning verkry. Hy het glo geld geëis, haar aangerand en daarna verkrag. Hy het ook na bewering haar selfoon, handsak en sleutels gesteel voordat hy op die vlug gestaan het. Die vrou is buite die eiendom deur ’n buurman en lede van die buurtwag gevind, nadat hulle haar hulpkrete gehoor het. Sy is vir mediese behandeling na ’n hospitaal geneem.
Enigiemand met inligting wat kan help om die verdagte te identifiseer en op te spoor, kan lt.kol. Gert Bruwer by 082 578 4311 bel.