OOS-KAAP. – Drie gemaskerde mans het na bewering Woensdagaand ’n 77-jarige vrou en haar seun tydens ’n huisroof op ’n plaas in die Kareedouw-omgewing vasgebind en die seun met ’n stok aangerand. Die polisie is omstreeks 21:30 ontbied na ‘n klagte by die plaas, waarna ‘n soektog na die drie verdagtes geloods is.
Kapt. Marius McCarthy, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die vrou wou haar hond uitlaat toe sy die drie mans by die deur gewaar. Hulle het haar glo gedwing om hulle die huis in te lei en haar in ’n slaapkamer met skoenveters vasgebind. Die mans het na bewering haar seun uit die stort gedwing en hom met ’n stok geslaan. Hy het kop- en skouerbeserings opgedoen voordat hulle hom met ’n elektriese koord vasgebind het.
Die verdagtes het glo drie selfone, juweliersware en ’n onbekende bedrag kontant gesteel en te voet gevlug. Die ma en haar seun het hulself bevry en na ’n buurplaas gehardloop om hulp te kry.
‘n Saak van huisroof word deur die polisie ondersoek. Enigiemand met inligting kan die Kareedouw-polisiekantoor of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.