VRYSTAAT. – Die polisie se Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid het sy kommer uitgespreek oor die toename in onwettige jag met honde. Dit word dikwels verbind met ander misdade soos veediefstal, opsetlike saakbeskadiging en stropery.
Volgens sers. Mahlomola Kareli, ‘n polisiewoordvoerder in die provinsie, kan mense wat sonder toestemming met honde op omheinde plase betrap word, moontlik self moet bewys dat hulle nie daar was met die doel om vee of wild te steel nie. Dit is verpligtend om skriftelike toestemming van die eienaar of wettige bewoner van die grond te hê wanneer iemand daar gaan jag – dit is onwettig om ’n eiendom sonder toestemming te betree en oortreders kan aangekla word.
Jagters word aangeraai om vooraf met die relevante owerhede te skakel om seker te maak hulle voldoen aan die wet en dat hulle oor die nodige permitte beskik. Owerhede hou veral georganiseerde groepe dop wat met groot getalle honde na plase geneem word om te jag. Volgens die polisie is die groepe soms tot 60 jagters sterk. In sommige gevalle werk die polisie ook saam met die DBV om klagte ingevolge die Wet op Dierebeskerming te lê indien diere onnodig seergemaak word.
Onwettige jag kan lei tot inhegtenisnemings en beslaglegging van toerusting en voertuie.





