LIMPOPO. – ‘n Vrou (45) en ‘n man (55), beide adjudant-offisiere in die polisie, is Dinsdag dood in hulle huis aangetref. Die egpaar, was aan die Thohoyandou- plaaslike kriminele rekordsentrum (PKRS) verbonde.
Kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat polisiebeamptes kort ná 13:00 na ‘n voorval by Ha Thukhutha, Tshilungoma 1 in die Vhembe-distrik was. Met aankoms is die vrou met verskeie steekwonde in ‘n plas bloed in die huis aangetref. Haar eggenoot is ook elders in die huis dood aangetref. Nooddienste het hulle dood verklaar. Die polisie het ’n moordsaak en ’n geregtelike doodsondersoek geregistreer. Die motief vir die voorval is nog onbekend, maar moontlike huishoudelike geweld word as deel van die ondersoek oorweeg.
Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel en dit as ’n groot verlies vir die organisasie en die gemeenskap beskryf. Sy het polisiebeamptes aangemoedig om van beskikbare ondersteuningsdienste gebruik te maak om persoonlike uitdagings betyds aan te spreek.





