MPUMALANGA. – Twee polisiebeamptes het Maandag op aanklagte van korrupsie, aanranding, diefstal, ontvoering, afpersing en regsverydeling in die Evander-landdroshof voorgekom.
Lt.kol. Magonseni Nkosi sê volgens inligting van die Valke was sers. Ntsizwa Mthimunye (47) en konst. Malefane Mofokeng (38) op 9 Oktober 2023 omstreeks 04:20 aan diens toe hulle ‘n vragmotor op die N17 gestop en deursoek het. Vier sakke dagga is glo in die vragmotor gevind. Daar word beweer dat die twee beamptes die vragmotorbestuurder aangerand en R5 000 vir sy vrylating geëis het. Hulle het glo van hom verwag om aanlyn op sy banktoepassing aan te meld. Toe dit te lank neem, is hy glo beveel om sy werkgewer te kontak om die vereiste bedrag te bekom. Uit die R5 000 wat inbetaal is, kon hy net R4 050 onttrek. Die dagga is deur die beamptes gekonfiskeer.
Die bestuurder is die volgende dag na die polisiestasie om R1 000 van sy geld vir die twee beamptes terug te vra. Beide was by die polisiestasie toe hy opdaag. Hy is glo weer aangerand, geboei en in ‘n polisiebakkie gelaai, waarna hy na ‘n afgeleë plek op die N17 geneem is. Een beampte het hom daar bewaak terwyl die ander met die voertuig weg is. Kort daarna het die voertuig teruggekeer met twee van die vier sakke dagga in die bakkie. Die bestuurder is toe vir die besit van dagga gearresteer.
Leslie-polisie het van die insident bewus geraak en die Valke in Secunda ingelig, waarna ‘n saak oopgemaak is en ‘n lasbrief vir die beamptes se hofverskyning bekom is. Die waarskuwing om in die hof te verskyn, is op 16 April 2025 aan beide die beamptes uitgereik. Die saak is tot 27 Julie 2025 uitgestel en beide die beskuldigdes is deur die hof beveel om persoonlik op die volgende hofdatum te verskyn.
“Ons sal aanhou om korrupsie binne en buite ons geledere uit te roei,” het genl.maj. Nico Gerber, provinsiale hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek in Mpumalanga, gesê.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





