GAUTENG. – Thabo Theletsane (42) het Maandag op aanklagte van die voordoen van ‘n polisiebeampte en bedrog in die Hatfield-landdroshof verskyn, nadat hy Saterdag deur die Valke in Petrus Steyn in die Vrystaat gearresteer is. Theletsane het homself glo as lt.genl. Godfrey Lebeya, die nasionale hoof van die Valke, voorgedoen.
Brig. Thandi Mbambo sê volgens beskikbare inligting het die beskuldigde in Oktober 2024 glo ‘n prominente sakeman van Gauteng via WhatsApp gekontak en valslik beweer dat hy die Valke-hoof is. Deur ‘n profielfoto en persoonlike besonderhede wat ooreenstem met dié van Lebeya te gebruik, het die beskuldigde die slagoffer mislei. Theletsane het beweer dat die beskuldigde se selfoon binnegedring (gehack) is en onder die voorwendsel van bystand met die sekuriteitsbreuk, persoonlike inligting van die slagoffer bekom. Die slagoffer het Theletsane geglo en persoonlike en kontakbesonderhede van naasbestaandes verskaf. Die beskuldigde het later geld gevra en beweer dat hy suksesvol op die toestelle van die slagoffer van kuberbedreigings ontslae geraak het. Meer as R100 000 is vervolgens deur die slagoffer betaal.
Die saak is Maandag vir ‘n formele borgtogaansoek tot 15 Mei uitgestel, terwyl die beskuldigde in aanhouding bly.
“Die gemeenskap word gewaarsku om nie betalings aan polisielede te maak nie, aangesien hulle nie gemagtig is om geld vir dienste te vra nie,” sê Mbambo.
Lt.genl. Godfrey Lebeya het Maandag se hofsitting bygewoon.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





