LIMPOPO – Drie polisiekonstabels, verbonde aan die Waterberg-blitspatrollie, is Vrydag deur die provinsiale teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem en vir veediefstal en regsverydeling aangekla.
Kol. Malesela Ledwaba sê die aanklagte spruit uit ’n voorval in Februarie 2025 in die Bela-Bela-polisiëringsgebied waar ‘n klaer na bewering twee beeste langs die R101 naby ’n plaas buite Bela-Bela gevind en gereël het dat dit veilig gehou word. ‘n Saak is by die polisie aangemeld. Die polisiekonstabels het glo die diere met aankoms onder die voorwendsel van bewaring oorgeneem.
Later is die beeste na bewering sonder die nodige dokumentasie of registrasie uit die aangewese aanhoudingsplek verwyder en is nooit teruggevind nie. Die beraamde waarde van die diere beloop sowat R30 000.
Die drie beskuldigdes is Vrydag by die Bela-Bela-polisiekantoor aangekla nadat lasbriewe vir hul inhegtenisneming deur die provinsiale teenkorrupsie-eenheid uitgevoer is. Hulle sal na verwagting op 20 April in die Bela-Bela-landdroshof voorkom.





