MPUMALANGA. – ‘n Polisieserant (42), verbonde aan die Lebombo-grenspos, is Maandag in verband met beweerde korrupsie in ‘n geteikende operasie in hegtenis geneem. Operasionele geld ter waarde van R80 000 is glo in sy besit gevind.
Volgens Valke-woordvoerder, lt.kol. Magonseni Nkosi, het die inhegtenisneming gevolg ná inligting van misdaadintelligensie wat daarop gedui het dat georganiseerde sindikate glo saam met korrupte wetstoepassers werk om gesteelde en bedrieglik verkryde voertuie oor die grens na Mosambiek te smokkel. Nadat die inligting geverifieer is, is ‘n geheime operasie goedgekeur en suksesvol uitgevoer. Tydens die operasie is die verdagte, wat in daardie stadium aan diens was, glo vasgetrek nadat hy ’n omkoopgeldbetaling van ’n undercover-agent aanvaar het. Operasionele geld ter waarde van R80 000 is in sy besit gekry en is tydens die arrestasie teruggevind.
Die sersant sal na verwagting Woensdag op ‘n aanklag van korrupsie in die Komatipoort-landdroshof verskyn.





