MPUMALANGA. – ‘n Polisiesersant is Saterdagaand dood en sy kollega beseer toe hulle glo aangeval is terwyl hulle ‘n klag van huishoudelike geweld in Bosbokrand ondersoek het.
Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê ‘n man het kort voor 10:00 by die Bosbokrand-polisiekantoor aangemeld dat sy broer onrus by hul woning veroorsaak. Twee polisiebeamptes is saam met die klaer na die huis, waar die verdagte aanvanklik met hulle gepraat het. Volgens die polisie het hy egter onverwags die huis binnegegaan, ‘n skerp voorwerp gaan haal en die 41-jarige sersant aangeval. Hy het daarna die 37-jarige konstabel in ‘n nabygeleë gat gestamp voordat hy te voet van die toneel gevlug het.
Die twee polisiebeamptes is na ‘n mediese fasiliteit geneem, waar die sersant met aankoms dood verklaar is. Die konstabel is vir verdere behandeling in die hospitaal opgeneem.
Sake van moord en poging tot moord word deur die polisie ondersoek, terwyl ‘n soektog na die verdagte voortduur. Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, sê die aanval op polisiebeamptes sal nie ongestraf bly nie. Hy het bevestig dat die ondersoek aan die Valke oorgedra is. Hy het sy medelye met die oorlede sersant se familie uitgespreek en die beseerde konstabel ‘n spoedige herstel toegewens.
Jackie Macie, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, het ‘n dringende beroep gedoen dat die verdagte so gou moontlik aangekeer word. Moeti Mmusi, die departementswoordvoerder, sê die voorval beklemtoon die gevare waaraan polisiebeamptes en ander veiligheidsbeamptes daagliks blootgestel word wanneer hulle op misdaad- en noodtonele is. Volgens die departement moet lede te alle tye op hul hoede wees, aangesien hulle dikwels met gewelddadige verdagtes te doen kry. Macie het gesê dit is noodsaaklik dat polisiebeamptes mekaar ondersteun en hul veiligheid eerste stel wanneer hulle klagtes ondersoek.
Hy het sy innige meegevoel met die familie, vriende en kollegas van die oorlede sersant uitgespreek en die beseerde konstabel ‘n spoedige herstel toegewens.8





