GAUTENG. – AO Olga Mmaleho Bawa, ‘n polisievrou, is Donderdagaand in Dobsonville Gardens dood nadat sy by ’n woning deur aggressiewe honde aangeval is.
Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits ’n geregtelike doodsondersoekdossier is geopen ná die dood van Bawa, wat aan die Roodepoort-polisie verbonde was. Volgens die polisie is ’n klagte oor kwaai honde omstreeks 18:50 ontvang. Met hul aankoms by die woning het polisiebeamptes die liggaam van ’n vrou in die erf naby die hek aangetref. Noodmediese dienste is na die toneel ontbied en het haar dood verklaar.
Die polisie ondersoek die omstandighede van Bawa se dood. Genl.maj. Fred Kekana, die waarnemende provinsiale kommissaris, het sy medelye aan Bawa se familie, vriende en kollegas betuig. Die polisie se gesondheid-en-welstand-eenheid sal berading en ondersteuning aan kollegas bied wat deur die voorval geraak is.