GAUTENG. – Die voormalige konst. Courtney Bandordien Madella (31) is Woensdag in die Johannesburg-hooggeregshof aan moord en regsverydeling skuldig bevind. Madella sal op 24 April gevonnis word.
Lizzy Suping en Phaladi Shuping, woordvoerders van Opod, die polisiewaghond, sê in ‘n verklaring die skuldigbevinding word verwelkom.
Madella het omstreeks 04:00 op 27 Februarie 2023 ‘n argument met Nomalugelo Khumalo, haar maat, in haar woonplek, destyds Herdershof-polisiebarakke in Sophiatown, gehad waartydens Madella ‘n bottel met suur na Khumalo gegooi het. Dit het oor die liggaam van Khumalo en die gesig van Angelo Williams, hulle vriend, uitgeval. Ernstige liggaamlike beserings is veroorsaak. Beide Khumalo en Williams is na die Baragwanath-hospitaal geneem, waar Khumalo ‘n week later aan beserings gesterf het.
Aangesien die insident nie aangemeld is nie, moes die misdaadtoneel herstruktureer word. Daar is bevind Madella het die suur oor Khumalo uitgegooi en van die houer ontslae geraak. Die direkteur van openbare vervolging het vervolging teen Madella ingestel.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





