Polisiewoordvoerder van Groot-Brak op borg

Lees ook :

Foto's: Lauriane Botha

WES-KAAP. – Sers. Lauriane Botha, die polisiewoordvoerder van Groot-Brakrivier, gelief in die gemeenskap, is deur die George- gespesialiseerde misdaadhof op borg van R3 000 vrygelaat nadat 323 aanklagte van onder meer korrupsie, intimidasie en regsverydeling teen haar gemaak is.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê Botha was aanvanklik gedagvaar om op 28 Oktober 2025 in die Groot-Brakrivier-landdroshof te verskyn, wat sy weens siekte nie gedoen het nie. Die saak is uitgestel sodat Botha vertoë aan die direkteur van openbare vervolging kon rig. Volgens die staat het Botha kort voor haar volgende hofdatum in Januarie vanjaar die klaer in die bedrogsaak opgespoor en hom glo probeer oorreed om die aanklagte teen haar terug te trek. Sy sou aangebied het om sekere items vir hom te koop en sou hom ook met tronkstraf gedreig het. Tydens die beweerde voorval was sy in volle polisiedrag en het sy ’n staatsvoertuig gebruik. Sy het voorts op 10 Februarie ‘n boodskap aan die ondersoekbeampte in haar saak gestuur waarin sy beweer het dat die klaer die klagte teen haar wil terugtrek. Dit het tot ’n verdere ondersoek gelei wat op haar inhegtenisneming uitgeloop het.

Ná haar inhegtenisneming het Botha Maandag ‘n eerste hofverskyning in die Mosselbaai-landdroshof gemaak. Borgtog is toegestaan op voorwaarde dat sy geen kontak met staatsgetuies mag hê nie. Die saak sal weer op 27 Februarie in die hof aangehoor word, wanneer die bedrog- en die nuwe aanklagte saam aangehoor sal word.

Op 28 Januarie het Botha ‘n erkenningsertifikaat, onderteken deur Dirk Kotzé, die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai-munisipaliteit, ontvang. Sy het reageer: “Met opregte dank wil ek Mosselbaai Munisipaliteit hartlik bedank vir die Erkenningsertifikaat wat ek vandag met groot trots en nederigheid ontvang het. Hierdie gebaar beteken vir my ongelooflik baie. Dankie dat julle die moeite doen om goeie werk en diens in die gemeenskap raak te sien en te erken. Sulke erkenning is nie net motiverend nie, maar ook inspirerend en bevestig dat elke opoffering en elke ekstra myl die moeite werd is. Hierdie erkenning gee my nuwe moed en dryfkrag om aan te hou werk met toewyding, integriteit en passie vir ons gemeenskappe. ’n Spesiale dankie ook vir die lekker bederfie – dit word opreg waardeer en was ’n baie mooi persoonlike aanraking. Dankie vir julle professionaliteit, ondersteuning en waardering. Dit word diep in my hart gedra.”

Op 8 Januarie was Botha 19 jaar in die polisiediens waarop sy die volgende gesê het: “Vandag neem ek ’n oomblik om stil te staan en met dankbaarheid terug te kyk op 19 jaar se diens in die SAPD. Hierdie reis was alles behalwe maklik. Dit was ’n pad vol uitdagings, opofferings en moeilike besluite wat my fisies, emosioneel en geestelik getoets het. Daar was dae van uitputting, onsekerheid en twyfel, en oomblikke waar dit gevoel het asof die las te swaar raak. Ek het ook geleer dat nie almal jou groei en sukses gun nie – party mense soek jou val – maar ek het ook ervaar hoe ander jou hand vashou en jou dra wanneer jy self nie meer kan nie.

As ’n enkelma van drie pragtige seuns was hierdie pad selfs meer uitdagend. Om ’n ma te wees en terselfdertyd die eise en verantwoordelikhede van hierdie beroep te dra, het groot opoffering geverg. Daar was tye wat ek moes kies tussen rus en deurdruk, maar my kinders was altyd my grootste motivering. Alles wat ek gedoen het, was vir hulle – om vir hulle ’n beter toekoms te bou en ’n voorbeeld van deursettingsvermoë en krag te wees. Ek wil my opregte en diep dank uitspreek teenoor my moeder, Jackie Botha, wat my rots en steunpilaar was deur alles. Haar liefde, wysheid en onvoorwaardelike ondersteuning het my deur die donker tye gedra. Aan my familie – dankie vir julle geduld, begrip en geloof in my, selfs wanneer dinge moeilik geraak het.

’n Spesiale dankie aan my vriend, Lionel Kennedy, vir jou ondersteuning, aanmoediging en bystand. Dankie ook aan my vriende, kennisse en die breër gemeenskap wat my op verskillende maniere ondersteun het – elke woord, gebed en gebaar het ’n verskil gemaak.

Aan my kollegas in die SAPD – dankie vir julle kameraadskap, spanwerk en ondersteuning. Saam het ons uitdagings trotseer, mekaar bygestaan in moeilike tye en aangehou dien, selfs wanneer dit nie maklik was nie.

Met ’n nederige en dankbare hart sê ek vandag dankie aan elke persoon wat deel was van my reis.

Hierdie 19 jaar was nie maklik nie, maar dit was betekenisvol. Dit het my gevorm, my sterker gemaak en my geleer om nooit op te gee nie. Ek staan vandag dankbaar, trots en gereed om vorentoe te stap met geloof, krag en hoop.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief