Die presidensie sê hy neem kennis van die Internasionale Geregshof (ICJ) se onlangse bevel wat nuwe sperdatums in die saak tussen Suid-Afrika en Israel oor die toepassing van die Genocide-konvensie in Gaza bepaal.
Israel het in sy jongste indiening ook beswaar gemaak teen die hof se jurisdiksie, wat beteken Suid-Afrika sal hierdie punte in sy volgende dokument moet aanspreek. Intussen bly Israel gebonde aan voorlopige bevele wat reeds deur die ICJ uitgereik is om die regte van Palestyne in Gaza te beskerm, insluitend maatreëls om humanitêre hulp en basiese dienste te verseker en om ondersoekspanne tot die gebied toegang te gee.
Vincent Magwenya, pesidensiële woordvoerder, sê die ICJ het op 21 Mei ’n bevel uitgereik wat Suid-Afrika tot 22 November 2027 tyd gee om sy repliek in te dien op Israel se geskrewe verdediging, wat in Maart 2026 ingedien is. Israel sal daarna tot 22 Mei 2029 tyd hê om ’n verdere antwoord in te dien. Die saak, wat in Den Haag voor die ICJ aangehoor word, volg op ’n vergadering tussen verteenwoordigers van beide partye en die president van die hof op 29 April 2026, waar verdere prosedures bespreek is. Die Presidensie verduidelik dat ’n tweede ronde skriftelike stukke in ICJ-sake normaal is en dat dit ook in vorige sake onder die Genocide-konvensie plaasgevind het. Volgens die Presidensie bly alle dokumente tans vertroulik totdat die hof anders besluit.
Die Presidensie sê die proses gaan voort volgens internasionale reg en hofprosedures.
Druk hier om meer te lees.









