Ernstige vrae word gevra oor die Valke se toewyding om beweerde korrupsie binne hul eie geledere te beveg nadat brig. Lesiba Mokoena, hoof van taktiese operasies, onlangs bevorder is. Dit terwyl hy steeds ondersoek word en as getuie voor die Madlanga-kommissie verskyn het.
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê volgens ‘n klagte deur ‘n adjudant-offissier aan hulle, word Mokoena onder meer daarvan beskuldig dat hy bedrieglike oortydinskrywings gemaak het – ’n saak wat reeds sedert 2024 ondersoek word, maar glo nog nie afgehandel is nie. Die klaer het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader nadat hy beweer het dat daar min vordering met die ondersoek is.
Die privaatvervolgingseenheid sê die situasie dui op moontlike selektiewe vervolging en het die Valke versoek om duidelikheid oor die vertraging in die ondersoek en hul hantering van die saak te verskaf.
Lees meer hier onder:
Dit blyk dat die Valke nie ernstig is oor hul voorneme om korrupsie in hul eie geledere uit te wis nie, aangesien die Valke se taktiese operasieshoof, Lesiba Mokoena, onlangs na die rang van brigadier bevorder is. Mokoena was ‘n getuie voor die Madlanga-kommissie van ondersoek na misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel. Hy word tans strafregtelik ondersoek en daar is ook vrae oor sy integriteit onder eed. Hy word daarvan beskuldig dat hy bedrieglike inskrywings in ’n register gemaak het om onwettig oortyd te eis. Dié beweerde optrede is 18 maande gelede deur ’n ondergeskikte aangemeld. Ten spyte daarvan sê die Valke se teenkorrupsieafdeling die ondersoek duur voort en dat verklarings steeds verkry moet word.
Die klaer, ’n adjudant-offisier, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in November verlede jaar genader ná die Valke-bestuur daarin gefaal het om die klag te ondersoek en daarop op te tree. Mokoena was ’n brigadier ten tyde van sy getuienis voor die Madlanga-kommissie in Oktober verlede jaar, ’n rang bo kolonel, wat sy rang was toe die klag teen hom in November 2024 aanhangig gemaak is.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hierdie versuim om op te tree staan in skrille kontras met hoe daar gewoonlik teen diegene opgetree word wat selfs net in die Madlanga-kommissie van ondersoek genoem word. Nel meen dat hoewel die privaatvervolgingseenheid die aanstel van kommissies van ondersoek wat polisie-ondersoeke vervang, kritiseer, het die eenheid opgemerk dat daar skielik ’n skynbare doeltreffenheid is in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se ondersoeke na sekere kwessies.
In ’n skrywe aan die Valke het Nel onder meer gesê dit is vreemd dat ’n eenvoudige en ongekompliseerde bewering van wanvoorstelling met betrekking tot “oortyd” deur ’n senior amptenaar by die SAPD sedert 2024 daartoe gelei het dat heeltyd gesê word daar is vordering in die ondersoek, hoewel dit nie blyk nader aan afgehandel te wees nie. Nel meen daar moet eenvoudig aanvaar word dat die Valke oor die nodige vaardighede beskik om sulke kwessies uit te sorteer.
Mokoena is by die Madlanga-kommissie daarvan beskuldig dat hy ’n wesenlike rol gespeel het in pogings van die Valke om die taakspan vir politieke moorde se inhegtenisneming van Katiso Molefe op 6 Desember 2024 te ontwrig. Die kommissie het hom gekritiseer dat hy te ontwykend en inkonsekwent was oor sy rol in die insident. Intussen, sedert die klagte van bedrog in November 2024 gelê is, het die Valke-bestuur aan die klaer gesê dat die saak steeds ondersoek word. Dit het die klaer genoop om uiteindelik in Desember verlede jaar AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp te nader.
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, meen dat die Valke se optrede in die saak teen Mokoena ’n selektiewe ondersoek blootgelê het. “Terwyl die Madlanga-kommissie openbare bewerings van ’n hernude toewyding tot verantwoordbaarheid binne die SAPD maak, is daar verwikkelinge agter die skerms wat daarop dui dat hierdie bloot ’n dekmantel is in reaksie op die vernedering van die openbarings wat byna daagliks vir die afgelope nege maande uitgesaai is. Wat die privaatvervolgingseenheid egter meer bekommer, is die selektiewe wyse waarop wetstoepassers hul outoriteit uitoefen, en hoe dit blyk vir politieke gerieflikheidshalwe beïnvloed te word eerder as om ’n opregte toewyding om wanpraktyke binne eie geledere die hoof te bied.”
Die privaatvervolgingseenheid versoek dat die Valke betekenisvolle terugvoer op hul vrae oor die status van die ondersoek lewer en ’n verduideliking bied vir die onverklaarbare vertraging om hierdie saak af te handel.





