Provinsiale Valke-hoof verlaat kantoor ná beweerde verdagte optrede

Lees ook :

Foto: SAPD

KWAZULU-NATAL. – Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, die provinsiale polisiekommissaris, het Saterdag ingegryp nadat ongewone gebeure by die provinsiale polisiehoofkantoor in Durban opgemerk is. Die gebeure het daartoe gelei dat genl.maj. Lesetja Senona, die hoof van die Valke in die provinsie, die gebou uit eie keuse verlaat en sekere staatseiendom agterlaat het.

Volgens ’n verklaring van lt.kol. Robert Netshiunda het Senona Saterdag by die hoofkantoor opgedaag, maar nie van sy gereserveerde senioroffisier-parkeerplek, wat ter enige tyd vir hom beskikbaar is, binne die gebou gebruik gemaak nie. Hy het glo volgens onder meer kamera-waarneming oorkant die straat geparkeer, waar hy vir ongeveer 45 minute in sy voertuig met ’n ander kolonel van die Valke in die provinsie vergader het. Daarna het Senona en sy sekretaresse die gebou binnegegaan.

Die polisie sê alle persone, ongeag rang, moet volgens instruksie oor naweke en ná ure ’n toegangsregister teken. Senona en die kolonel het volgens die verklaring nie geteken nie, terwyl die sekretaresse net vir haarself geteken het. Die eenheidshoof het voor die Madlanga-kommissie getuig dat hy eens polisiedokumente aan ‘n private persoon verskaf het.

Die optrede het bekommernis oor veiligheid laat ontstaan, waarna veiligheidspersoneel genl. Mkhwanazi ingelig het. Mkhwanazi het opdrag gegee dat Senona genader moet word om te verduidelik wat hy in die kantoor doen. Volgens die polisie wou Senona ’n staatsrekenaar en dokumente saam neem toe hy die kantoor verlaat. Hy is versoek om alle staatseiendom, buiten sy amptelike selfoon, agter te laat. Hy het ook sy kantoorsleutels oorhandig.

Die voorval is aan die waarnemende nasionale hoof van die Valke gerapporteer. Die polisie het aangedui dat interne aangeleenthede op die toepaslike forums hanteer sal word, terwyl die fokus op misdaadbekamping in die provinsie bly.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief