Brekende Nuus
Nuus

Jagters se liggame ná meer as 2 weke gevind

Foto: SAPD

VRYSTAAT. – Die liggame van Sello Khala (38) en Fana Nale, wat tydens ’n jagtog in Qwaqwa vermis geraak het, is ná meer as twee weke se soektog op Sephokong-berg gevind.

Volgens polisiewoordvoerder, sers. Mahlomola Kareli, het Khala en Nale, van Lusaka Village in Qwaqwa, op 9 Augustus saam met vriende by Hatsoanyana Farm gaan jag. Die groep het oor Sephokong-berg weens digte mis van mekaar geskei geraak. Een van die vriende kon daarin slaag om veilig huis toe te keer, maar Khala en Nale het nie teruggekeer nie. Nadat die mans se families hulle as vermis aangemeld het, is ’n multidissiplinêre soek-en-reddingsoperasie van stapel gestuur.

Op Vrydag 14 Augustus omstreeks 12:30 het soekspanne die liggaam van Khala op die berg gevind. Die soektog na Nale is ondanks die moeilike terrein voortgesit. Op 24 Augustus is Nale se liggaam gevind. Albei oorledenes is deur familielede geïdentifiseer. Die omstandighede van die mans se dood is nog nie bekend nie. Nadoodse ondersoeke sal gedoen word om die presiese oorsaak van dood vas te stel.

Enigiemand met inligting word gevra om AO Mathibela van die speurdiens by 082 554 3461 te bel.