WES-KAAP. – Padherstelwerk ter waarde van R262 miljoen aan sowat 60 km se provinsiale paaie in die Breederivier-munisipaliteit naby Worcester is voltooi.
Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur sê die 16 maande-kontrak met Roadmac Surfacing Cape word vandag afgehandel, met die huidige padwerke reeds voltooi en die kontrakteur wat die laaste herstelpunte afhandel. Die paaie wat geraak is, sluit die R60, R43, DR1347, DR1379, Nuy Vallei-pad en DR1377 in. Die paaie is laas tussen 1995 en 2013 herseël en het onder meer herstelwerk aan slaggate, padbasisse, spoorvorming, krake en beskadigde padkante benodig. Sekere dele is ook deur oorstromings beskadig. As deel van die projek is ’n 2 km-gedeelte van die Nuy Vallei-pad van ’n grondpad na ’n teerpad opgegradeer, terwyl dreinering, erosiebeskerming, heinings, vangrelings en ander pad- en brugherstelwerk ook gedoen is.
Volgens die departement het die projek 355 werksgeleenthede geskep en is 29 093 mensdae se plaaslike arbeid gebruik. Goedere en dienste ter waarde van R92,4 miljoen is van geteikende ondernemings verkry, terwyl 16 plaaslike ondernemings by die projek betrokke was. Agt opkomende kontrakteurs het ook subkontrakte ontvang.
Druk hier om meer te lees.