Brekende Nuus
Misdaad

Buffelbul vermoedelik deur stropers in Krugerwildtuin doodgemaak

Foto: Ter illustrasie

LIMPOPO. – Die polisie het ’n soektog na onbekende verdagtes van stapel gestuur nadat ’n buffelbul ter waarde van sowat R300 000 vermoedelik tydens ’n stropery in die Krugerwildtuin doodgemaak is.

Volgens polisiewoordvoerder, kol. Malesela Ledwaba, het die voorval Sondag omstreeks 09:30 in die Tshikuyu-blok van die Krugerwildtuin, binne die Masisi-polisiëringsgebied in die Vhembe-distrik, plaasgevind. Volgens voorlopige inligting was ’n klaer besig met ’n patrollie in die park toe hy ’n aasvoël bokant die gebied sien vlieg het. Hy het ondersoek ingestel en die kop van ’n buffelbul, stukke buffelvel, vyf verskillende menslike voetspore en hondespore aangetref. Die spore het tot by die park se heining, na die dorpie Benndemutale gelei.

’n Saak van stropery is by die polisie geregistreer en word ondersoek. Die verdagtes is steeds onbekend en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Lt.genl. Jan Scheepers, provinsiale kommissaris van die SAPD in Limpopo, het die voorval veroordeel en ’n beroep gedoen vir verskerpte pogings om wildmisdaad te bekamp. Enigiemand met relevante inligting wat die ondersoek kan help of tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan speur.sers. Mamedzi Azwianewi Robert by 071 612 1076 bel.