Nuusberigte oor die astronomiese vergoeding wat Naspers se voormalige hoof uitvoerende beampte, Bob van Dijk, verdien het en steeds tot September 2024 gaan verdien, skep net meer vrae oor die planne van Media24 om sowat 400 personeellede uit diens te stel en koerante insluitend Beeld en Rapport te sluit, sê Afriforum.
Van Dijk het die afgelope jaar R330 miljoen van die maatskappy ontvang en daar sal baie meer wees in die huidige boekjaar. Naspers het besonderhede verskaf oor die vergoeding wat van 1 April 2023 tot 31 Maart 2024 aan Van Dijk betaal is en die ooreengekome skeidingspakketvergoeding.
Die jongste Naspers-jaarverslag het getoon dat Van Dijk in die afgelope boekjaar $18,269 miljoen ontvang het. Teen die huidige wisselkoers van R18,07/USD is dit gelyk aan R330 miljoen.
Afriforum sê in ‘n persverklaring aan Nuusflits, die strategiese oorwegings van die mediareus om gedrukte koerante toe te maak, is tot op hede verpak as ‘n “weldeurdagte besigheidsbesluit”. In die lig daarvan dat die gedrukte weergawes van Beeld en Rapport wel nog winsgewend is en dat senior personeel op hierdie vlak vergoed word, hou die argumente nie water nie, aldus Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.
Sedert die nuus oor Media24 se moontlike besparings aan die lig gekom het, is gewys op die vele voordele wat die voortbestaan van gedrukte koerante en ander publikasies vir lesers, die taal waarin dit verskyn en die breër gemeenskap waaroor dit berig, inhou. Daar is ook gewys op die feit dat baie mense in Suid-Afrika weens tegniese of finansiële uitdagings, nie toegang tot elektroniese media het nie en daarom nie toegang tot aanlyn beriggewing sal hê indien die koerante sluit nie.
Ishmet Davidson, hoof uitvoerende beampte van Media 24, het op 18 Junie bevestig Beeld, Rapport, City Press, Daily Sun en Soccer Laduma, asook die PDF-uitgawes van Volksblad en Die Burger Oos-Kaap, tesame met die digitale inhoudsplatform SNNL24, sal sluit. Rapport, City Press en Daily Sun sal slegs as digitale handelsmerke beskikbaar wees.
Davidson voorsien dat die voorgestelde herstrukturering kan lei tot die verlies van ten minste 400 poste, met 400 poste wat na Novus Holdings oorgeplaas word.





