GAUTENG. – Rdl. Andile Mngwevu se dood is bevestig ná dae se soektogte in die gebied waar sy voertuig deur vloede in Chókwè, Mosambiek meegesleur is.
Nkosindiphile Xhakaza, die uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni, het sy skok en diepe hartseer oor Mngwevu se afsterwe uitgespreek. Xhakaza het Mngwevu beskryf as ’n toegewyde staatsamptenaar wat hom beywer het vir verbeterde mobiliteit, infrastruktuurontwikkeling en dienslewering. Hy het gesê Mngwevu se dood is ’n groot verlies vir die stad, die raad en die breër gemeenskap.
Die uitvoerende burgemeester het namens die stad se leierskap sy innige meegevoel aan Mngwevu se familie, vriende en kollegas betuig. Die Stad Ekurhuleni het ook sy simpatie uitgespreek met die mense van Mosambiek wat deur die onlangse vloede geraak is.






