Brekende Nuus
Nuus

Ramaphosa wil KI-aksieplan binne 90 dae hê ná besoek aan Silicon Valley

Suid-Afrika gaan ’n nasionale aksieplan vir kunsmatige intelligensie ontwikkel wat onder meer moet kyk na beter openbare dienste, belegging en die risiko vir werkers.

President Cyril Ramaphosa
Foto: South African Government

Suid-Afrika gaan ’n nasionale aksieplan vir kunsmatige intelligensie ontwikkel wat onder meer moet kyk na beter openbare dienste, belegging en die risiko dat werkers deur nuwe tegnologie geraak kan word.

President Cyril Ramaphosa sê die plan moet binne 90 dae ontwikkel word nadat hy en ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging verlede week met tegnologiemaatskappye, navorsers en beleggers in Silicon Valley in die Verenigde State vergader het.

Hy het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê die plan sal onmiddellike prioriteite uiteensit om Suid-Afrika se deelname aan die vinnig ontwikkelende wêreld van kunsmatige intelligensie (KI) te rig. Die doel is om dit wat die afvaardiging tydens die besoek geleer het in praktiese resultate te omskep.

Ramaphosa het Vrydag aan die einde van die besoek gesê Suid-Afrika moet ’n aktiewe rol in die ontwikkeling van KI speel en nie agterbly terwyl die tegnologie die wêreldekonomie verander nie. Hy wil die belangrikste elemente van die plan in Februarie in sy staatsrede uiteensit.

Vier prioriteite vir KI-aksieplan

Volgens Ramaphosa moet die aksieplan op vier onmiddellike prioriteite fokus.

Die eerste is om KI te gebruik om openbare dienste en die regering se doeltreffendheid te verbeter. Hy het na moontlike gebruike in onderwys, gesondheidsorg, landbou en staatsadministrasie verwys.

Die tweede is om Suid-Afrika ’n mededingende bestemming vir belegging in KI-infrastruktuur te maak. Die derde is om plaaslike KI-vermoë te ontwikkel en universiteite, navorsers, ontwikkelaars en entrepreneurs beter toegang tot die tegnologie en die nodige rekenaarhulpbronne te gee.

Die vierde prioriteit is om die land voor te berei op die risiko’s en ontwrigting wat KI kan meebring. Dit sluit kuberveiligheid, die beskerming van kritieke infrastruktuur en opleiding vir werkers in.

’n Klein span onder leiding van die Presidensie moet die werk dryf. Volgens Ramaphosa moet die span kundiges uit die regering, sakewêreld en akademie insluit en duidelike verantwoordelikhede, meetbare teikens en vaste sperdatums hê.

Geleenthede én risiko’s vir werkers

Ramaphosa sê KI kan help om ontwikkeling te versnel in ’n land wat met armoede, werkloosheid, ongelykheid en ongelyke toegang tot dienste worstel.

Hy het voorbeelde genoem van hoe die tegnologie moontlik gebruik kan word: om hospitale met diagnoses te help, boere inligting oor gewassiektes te gee en staatsaansoeke doeltreffender te verwerk.

Die president het egter ook gewaarsku dat KI bestaande ongelykhede kan verdiep en werkers kan verdring, selfs terwyl dit nuwe bedrywe en werksgeleenthede skep. Hy sê werkers sal deur onderwys, heropleiding en voortgesette leer vir dié veranderinge voorberei moet word.

In sy nuusbrief het hy gesê wetlike en regulatoriese raamwerke moet innovasie aanmoedig terwyl privaatheid, intellektuele eiendom, menseregte en die openbare belang beskerm word.

Ruimte vir Afrika se tale

Ramaphosa het tydens ’n konferensie in San Jose ook gesê Suid-Afrika moet nie bloot ’n verbruiker wees van tegnologie wat elders ontwikkel word nie. Die land moet self tegnologie ontwikkel en besit.

Hy het daarop gewys dat Afrikatale, geskiedenis en ervarings in baie van die data waarop toonaangewende KI-stelsels gebaseer is, onderverteenwoordig is. Dit kan beteken dat dié stelsels nie alle mense ewe goed bedien nie.

Daar is volgens hom ’n geleentheid om Afrika-datastelle te ontwikkel en navorsing in Afrikatale te versterk, met inagneming van privaatheid en die verantwoordelike gebruik van persoonlike inligting.

Die afvaardiging na Silicon Valley het ook 30 studente van universiteite en tegniese en beroepsopleidingskolleges ingesluit. Ramaphosa sê die besoek het aan jong Suid-Afrikaners die geleentheid gebied om by vooraanstaande tegnologiemaatskappye te leer.