WES-KAAP. – ‘n Manlike olifantrob wat sedert middel Julie langs die Tuinroete vertoef, toon bemoedigende tekens van verbetering, hoewel hy steeds onder noukeurige toesig van kenners bly.
Hierdie diere is ongewone besoekers aan die Suid-Afrikaanse kus. Dit is nie ‘n dier wat hier broei nie. Die meeste olifantrobbe wat hier opduik, is ‘n jong of rondswerwende dier wat van sub-Antarktiese eilande af kom.
Volgens die Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) het die bul, George genoem, op 15 Julie aan wal gekom. Hoewel hy steeds maer voorkom, beweeg hy meer en reageer hy beter ná behandeling deur dr. De Graaff en sy span, wat medikasie toegedien het om sy immuunstelsel te versterk.
Die veeartsenyspan van Hartenbos-dierehospitaal (HAH) kon weens die onlangse reën nog nie weer by hom uitkom nie. S.M.A.R.T. sê die rob word intussen voortdurend gemonitor en sal weer ondersoek word sodra die weer dit toelaat. George is na raming sowat agt jaar oud en weeg nagenoeg een ton. Hy is onlangs deur dr. Greg Hofmeyr van Bayworld gemerk en het ook entstof teen hondsdolheid ontvang.
Daar word gevra dat mense wegbly van die diere en hulle nie probeer aanraak, voer of met water natgooi nie.





