KWAZULU-NATAL. – Ses verdagtes is in Umhlali in hegtenis geneem in verband met’n reeks beweerde ernstige misdade. Aman Giyanshwar Roopsingh, ’n suikerrietboer, het na ’n gewelddadige huisroof op 30 Januarie in Riet Valley, Shakaskraal op 3 Februarie gesterf.
Lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder, sê daar was op 28 Maart ‘n skietery tussen die polisie en verdagtes, waartydens drie verdagtes in hegtenis geneem is. Die groep van ses verdagtes is Sondag, 12 April, in die Shayamoya-gebied vasgetrek nadat hulle vir weke lank inhegtenisneming ontduik het.
Een van die ses verdagtes word spesifiek verbind aan die moord op die boer. Tydens die aanval is die slagoffer en sy familielede glo aangehou en met messe aangeval, waarna hy later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het. Sy oom is tydens die voorval ernstig beseer.
Volgens die polisie is die groep verbind aan ’n reeks gewapende rooftogte in Shayamoya, Nkobongo, Riet Valley en Itete, waar inwoners geteiken is. Die verdagtes, tussen 20 en 25 jaar oud, het reeds in die KwaDukuza-landdroshof verskyn. Drie is steeds in aanhouding, terwyl die ander drie op borgtog vrygelaat is.
‘n Ondersoek duur voort om vas te stel of hulle met ander misdade in die iLembe-distrik verbind kan word.
Thamsanqa Ntuli, die premier van KwaZulu-Natal, het vroeër vandag die moord op Roopsingh skerp in ‘n verklaring veroordeel en dit beskryf as ’n wrede en onaanvaarbare aanval wat nie net ’n individu en sy familie raak nie, maar ook voedselveiligheid en die stabiliteit van landelike gemeenskappe ondermyn. Hy het gesê sulke aanvalle skep vrees en destabiliseer gemeenskappe, en het die polisie gevra om die verdagtes vinnig vas te trek en te vervolg.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het ‘n huisroof bevestig waartydens die verdagtes die familie met messe oorval, wapens gesteel en die slagoffers aangerand het voordat hulle gevlug het.
Bronne: SAPD, KZN Premierskantoor en African Farming





