Regering se konsepregulasies oor boorgate – wat jy moet weet

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het op 10 Desember 2025 konsep-regulasies gepubliseer wat elke Suid-Afrikaner raak wat ‘n boorgat het. Minister Pamela Majodina het die konsepregulasies in die Staatskoerant (Goewermentskennisgewing Nr. 6935) gepubliseer ingevolge die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) en dit geld vir alle grondwaterverbruikers — nuut én bestaande — regoor die land.

Suid-Afrika is ‘n water-arm land wat weens klimaatsverandering al hoe droër word en grondwater is een van die land se mees kritieke buffers — veral tydens droogtes. Die regering erken dat hulle tans nie werklik weet hoeveel boorgate daar is, wie dit gebruik, of hoeveel water onttrek word nie. Hierdie kosep-regulasies is ‘n poging om dit reg te stel. Die doel is om ‘n nasionale prentjie te kry van ‘n hulpbron wat tot dusver grootliks ongemeet en ongereguleer was — en om te verseker dat grondwater volhoubaar vir huidige en toekomstige geslagte bestuur word. Kritici argumenteer egter dat gewone huiseienaars te swaar geraak word en dat groter industriële verbruikers eerder strenger gereguleer behoort te word.

Die konsepregulasies maak geen onderskeid tussen stedelike en landelike boorgate nie — dit geld vir alle grondwatergebruikers regoor die land, van ‘n huiseienaar in Sandton tot ‘n boer in die Karoo. Die enigste onderskeid is tussen verbruikstipes: huishoudelike verbruikers, algemene magtiginghouers en formele waterlisensiehouers — elk met sy eie vlak van verpligtinge. Dit is juis hierdie “een grootte pas almal”-benadering wat die meeste kritiek uitlok. Baie meen dat ‘n klein stedelike huiseienaar met ‘n tuinboorgat nie dieselfde administratiewe las en koste behoort te dra as ‘n groot kommersiële plaas of ‘n mynbou-onderneming nie en dat die regulasies ‘n meer risikogebaseerde benadering behoort te volg.

Enigeen wat beplan om ‘n gat te boor sal onder die nuwe konsepregulasies eers die munisipaliteit moet inlig en ‘n geosite-identifiseerder van die Nasionale Grondwaterargief (NGA) moet kry voordat enige boorwerk kan begin. Slegs ‘n boorder wat op die NGA geregistreer is, mag die werk doen. Boorgat-posisionering moet aan streng nasionale standaarde voldoen. Ná voltooiing moet alle boordata binne twee maande op die NGA opgelaai word, die boorgat moet vir opbrengs getoets word en ‘n geskikte pomp, wat pas by die boorgat se spesifieke opbrengs, moet geïnstalleer en ook op die stelsel vasgelê word.

Wat word van jou verwag as jy ‘n boorgat het?

  • Registreer jou boorgat op die NGA — bestaande gebruikers het 12 maande om dit te doen
  • Installeer ‘n watermeter en meet jou verbruik
  • Doen jaarlikse chemiese watergehaltetoetse by ‘n geakkrediteerde laboratorium
  • Laai alle data jaarliks op na die DWS se stelsels
  • Indien jou meter gesteel of beskadig word, is jy verantwoordelik vir die vervanging daarvan

Verbode sones om te boor:

  • Binne 50 meter van begraafplase, puttoilette, brandstoftenks of afval-terreine
  • Binne 1 kilometer van strategiese infrastruktuur
  • Binne 5 kilometer van varswater-ekostelsels of kritieke biodiversiteitsgebiede

Indien die konsepregulasies as wetgeweing aanvaar word en dit nie nagekom word nie, kan jy gestraf word. Eerste oortreding: boete tot 5 jaar gevangenisstraf. Tweede oortreding: tot 10 jaar gevangenisstraf.


Die DWS behou ook die reg voor om jou eiendom te betree vir roetine-oudits.

Die departement hersien tans alle kommentaar wat ontvang is voor finalisering. Kommentaar moes binne 60 dae ná publikasie ingedien gewees het.

  • 📧 E-pos: [email protected]
  • 📬 Pos: The Director-General, Department of Water and Sanitation, Private Bag X313, Pretoria, 0001
  • 🏢 Persoonlik: Sedibeng-gebou, Francisbaard straat 185, Pretoria
  • 📞 Navrae: Me. R.N. Mazwi — 012 336 7554 of [email protected]

📄 Lees die volledige regulasies hier: 🔗 https://18a66295-3a0f-41fb-a13d-9849edd3b2a3.usrfiles.com/ugd/18a662_fbba71e4f56e4556837177dd59ddce85.pdf

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief