GAUTENG en MPUMALANGA. – Twee regeringsamptenare verbonde aan die Mpumalanga-premier se kantoor is in hegtenis geneem in verband met die moord op Mabidi Mashaba, ’n forensiese ondersoeker wat korrupsiesake ondersoek het.
Volgens die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, het die inhegtenisnemings gevolg ná ’n uitgebreide ondersoek deur die polisie se georganiseerde misdaadeenheid in Tshwane. Mashaba was ’n senior regeringsamptenaar en forensiese ondersoeker wat sake ondersoek het van persone wat glo regeringsposte bekom het met vervalste kwalifikasies.
Hy is gedurende September 2023 aangeval terwyl hy van Mpumalanga na Pretoria onderweg was. Daar is meer as 20 keer op sy voertuig geskiet, en sy werksrekenaar en sensitiewe dokumente gesteel. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Eckson Mkondo (53) het reeds op aanklagte van moord en sameswering om moord te pleeg in die Pretoria-landdroshof verskyn. Die saak is vir ‘n formele borgtogaansoek tot 4 Junie uitgestel. Die tweede verdagte het vandag op soortgelyke aanklagte in dieselfde hof verskyn.
Volgens Mathe wys die inhegtenisnemings op die polisie se volgehoue poging om ernstige en georganiseerde misdaad hok te slaan, veral waar persone geteiken word wat korrupsie en wanpraktyke ondersoek. Sy het die ondersoekspan geloof vir hul volgehoue werk om die verdagtes vas te trek.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê Emmanuel Neverdie Mkhabela (47), ’n protokolbestuurder, staan tereg op aanklagte van voorafbeplande moord, asook die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie. Mkondo wat reeds in die hof verskyn het, was ‘n keuringsbeampte. Volgens die staat het die voorval op 7 September 2023 plaasgevind toe Mashaba van Mpumalanga na sy woning in Pretoria onderweg was. Daar word beweer dat die twee beskuldigdes langs sy voertuig op die Hardy Muller-sirkel in Villieria gery en verskeie skote op hom geskiet het, voordat hulle van die toneel gevlug het. Mashaba het glo ná die skietery sy voertuig tot stilstand gebring en sy toesighouer gekontak om te meld dat hy aangeval is. Hy is deur veiligheidspersoneel langs die pad gevind en na ’n hospitaal geneem, waar hy aan sy beserings beswyk het.
Na ’n uitgebreide ondersoek is Mkondo by ’n gastehuis in Mpumalanga in hegtenis geneem, terwyl Mkhabela homself by die Villieria-polisiestasie oorgegee het. Beide die verdagtes sal met die volgende hofverskyning vir borg aansoek doen.





