WES-KAAP. – 10 regters van die Wes-Kaap-hooggeregshof het bevind regter Mushtak Parker het homself aan growwe wangedrag skuldig gemaak, oor bewerings van aanranding deur die voormalige regter-president, John Hlophe. Die regterlike dienskommissie (JSC) het op 13 Oktober 2025 besluit om die Speaker van die Nasionale Vergadering te nader met ’n aanbeveling dat verwyderingsverrigtinge teen Parker van die Wes-Kaaps-hooggeregshof ingestel word.
Luidens ’n verklaring van die JSC wat Donderdag uitgereik is, het die regterlike gedragstribunaal klagtes van regterlike wangedrag teen regter Parker oorweeg. Die klagtes is deur tien regters van die Wes-Kaapse-hooggeregshof, asook die Kaapse Balieraad, ingedien. Die tribunaal het bevind dat regter Parker skuldig is aan growwe wangedrag, soos in artikel 177(1)(a) van die Grondwet gestel word. Die JSC het die verslag, rekord en transkripsie van die verrigtinge, asook skriftelike voorleggings deur regter Parker, oorweeg en bevind dat sy optrede wel as growwe wangedrag uitgemaak kan word.
Die tribunaal het verder bevind dat regter Parker nie ’n tekort in die trustrekening van sy voormalige prokureursfirma bekend gemaak het tydens sy aansoek om as regter aangestel te word nie, wat ook as growwe wangedrag beskou is. Daar is besluit om die saak formeel na die Speaker van die Nasionale Vergadering te verwys en die aanvang van ’n verwyderingsproses ingevolge die Grondwet aan te beveel.
Volgens vorige berigte hou die bevindinge verband met teenstrydige verklarings wat regter Parker gemaak het oor ’n beweerde voorval waarin hy aanvanklik aangevoer het dat die voormalige Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe, hom in sy kantoor aangerand het. Parker sou later glo ’n ander weergawe van die gebeure gegee het. Die regterlike gedragstribunaal het bevind dat een van dié weergawes onwaar was en as oneerlikheid geklassifiseer moet word.
Lees meer oor Parker hier.

Bronne: Judicial Service Commission, IOL





