GAUTENG. – Tanya Jooste, die eienaar van ATP Travel, het op 13 Augustus op verskeie aanklagte van bedrog in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn. Sy is borgtog van R10 000 toegestaan.
Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) sê as deel van Jooste se borgvoorwaardes mag sy nie met enige slagoffers, persoonlik of deur ‘n ander party, kommunikeer nie. Sy moet ook daagliks by die Sinoville-polisiekantoor aanmeld. Voorts mag sy nie Gauteng verlaat totdat die saak afgehandel is nie en is ook beveel om haar paspoort in te handig. Die saak sal weer vandag (Woensdag) in die hof voorkom. Adv. Rachelle van der Walt vervolg namens die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid (SCCU).
Volgens SSS is daar reeds verskeie beweerde klagtes oor Jooste landwyd ontvang, insluitend van die Suid-Afrikaanse onder-20 yshokkiespan. In een geval het ’n kliënt in 2024 sowat R172 300 aan Jooste vir ’n sakebesoek na die VK en Europa betaal. Vlugte, verblyf en vervoer is egter nie betaal soos ooreengekom nie, wat gelei het tot groot finansiële verliese en reputasieskade. JD Pienaar, SSS-kubermisdaadspesialis, het Jooste verskeie keer gekontak en geen reëlings wat gemaak is, is nagekom nie. Tot dusver is slegs R14 000 terugbetaal, met ’n groot bedrag wat steeds uitstaande is.
Lede van die publiek wat soortgelyke ondervindings met Jooste of ATP Travel gehad het, word aangemoedig om dit by SSS aan te meld. Bel Pienaar by 066 377 3301 om relevante inligting te deel, of indien jy ook ‘n voorval wil aanmeld.





