Brekende Nuus
Nuus

Repokoers verhoog na 7,25% – só raak dit jou sak

Foto: SAPD

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het die repokoers met 25 basispunte tot 7,25% verhoog, met die nuwe koers wat vandag 25 September in werking tree. Die prima-uitleenkoers styg daarmee tot 10,75%. Die monetêrebeleidskomitee (MPC) het eenparig ten gunste van die verhoging besluit.

Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het gesê die besluit kom te midde van verhoogde onsekerheid en groter inflasierisiko’s, veral weens hoër brandstofpryse. Inflasie staan tans op 4,4%, terwyl die SARB verwag dat inflasie later vanjaar en vroeg volgende jaar bo 5% kan wees voordat dit weer begin afneem. Die bank verwag tans dat inflasie teen die einde van 2027 na die 3%-teiken kan terugkeer. 

Die SARB het ook sy groeiverwagting vir Suid-Afrika se ekonomie vir 2026 van 1,4% na 1,2% verlaag nadat die ekonomie in die tweede kwartaal met 0,2% gekrimp het. Die bank sê die repokoers kan vir die res van die jaar grootliks stabiel bly, maar beklemtoon dat toekomstige besluite van ekonomiese data en die balans van risiko’s sal afhang.

Wat beteken dit vir jou?

Mense met skuld wat aan die prima-uitleenkoers gekoppel is, kan nou meer rente betaal. Dit sluit onder meer baie huislenings, voertuigfinansiering en ander kredietooreenkomste in. Die presiese bedrag waarmee ’n persoon se paaiement verander, hang van die uitstaande bedrag, oorblywende termyn en die rentekoers op die individuele lening af. Die SARB wys daarop dat banke werklike uitleenkoerse volgens onder meer hul befondsingskoste, risiko en kliëntprofiel bepaal.

Druk hier om meer te lees.