MPUMALANGA. – Drie verdagtes tussen 30 en 42 is in hegtenis geneem nadat hulle glo Vrydagaand omstreeks 22:00 gepoog het om ‘n rooftog in Belfast uit te voer. Ná ‘n oor-en-weer-skietery is die liggaam van ‘n speurder (54) verbonde aan die Pienaar-polisiekantoor dood op die verdagte voertuig se sitplek aangetref.
Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring ‘n groep gewapende individue in ‘n wit Datsun Go, wat hulleself glo as polisiebeamptes voorgedoen het, het ‘n VW Polo geteiken en langs ‘n pad tot stilstand gedwing. Hulle het die insittendes met vuurwapens gedreig om op die grond te lê. Polisielede op patrollie het die verdagtes opgemerk en nader beweeg. Die verdagtes, behalwe een wat te voet gevlug het, het op die beamptes geskiet terwyl hulle weggejaag het.
‘n Hoëspoedjaagtog het gevolg tot die voertuig teen ’n boom in Bhekumuzi Masango-rylaan vasgery het. Verdagtes is op die toneel vasgekeer, terwyl die polisiebeampte dood op die agtersitplek aangetref is. Die vermoede dat hy tydens die skietvoorval dood is, vorm deel van die ondersoek.
Ammunisie en twee vuurwapens is op die toneel deur die polisie gekonfiskeer, terwyl die verdagte wat te voet gevlug het, later naby die N4 in die rigting van Machadodorp in hegtenis geneem. Die verdagtes word deur verskeie aanklagte in die gesig gestaar, insluitend poging tot kaping, roof met ’n vuurwapen, poging tot moord, asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Opod (die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat) is in kennis gestel en ‘n volle ondersoek is aan die gang. ‘n Polisiebakkie wat aan Pienaar-speurtak toegeken is, is ook op ‘n plaas naby Belfast gevind. Dit word ondersoek of die staatsvoertuig moontlik met of sonder die nodige magtiging gebruik is.
Die verdagtes sal vandag (Maandag) in die Belfast-landdroshof verskyn.





