Piet was ’n kerkman — ’n gesonde man. Hy het nie gerook, gedrink of gedans nie. Sy leefstyl was skoon en opreg. Hy het ’n droom gehad om eendag een van daardie duur, fancy sportfietse vir homself te koop, maar hy kon nooit genoeg geld op een slag bymekaar kry nie. As jy weet hoeveel ‘n ordentlike fietse kos, sal jy op jou rug val!
Eendag deel hy sy droom met sy pasgetroude vrou. Sy stel voor dat hy sy oupa se seëlversameling verkoop — iets wat hy jare gelede geërf het. Al was hy aanvanklik huiwerig, hou hy van die idee en die twee bid saam daaroor. Hy voel in sy hart dat hy bevestiging van die Here gekry het en begin na ’n koper soek.
Daardie selfde week nog kry Piet iemand wat belangstel. Die koper bied hom ’n volle R60 000 vir alles — selfs meer as wat hy verwag het. Alles val só mooi in plek dat dit net van die Here af kan wees.
Hy en sy vrou beplan ’n naweekwegbreek om hul eerste ontmoeting te herdenk. Die man se hart is vol — die lewe kan nie beter nie. Vrydagmiddag daag die koper onverwags op met kontant in die hand. Hulle maak die ruiling en skud blad.
Hy het nog nooit soveel kontant op een slag in sy hand gehad nie — en hy besit nie eens ’n kluis nie! Hy prop toe die geld in sy bedkassie se laai en gryp sy tasse, want dit is tyd om see toe te gaan.
Toe hulle in die bakkie klim om te ry, kyk sy vrou terug na die huis en sien dat die voordeur en die hekkie wawyd oopstaan.
“Piet, gaan maak toe. Jy weet mos hoe sukkel ons met diefstal in hierdie area. Hulle het nog verlede week by die bure ingebreek.”
Piet antwoord, “Nee man, moenie worry nie. Ons huis is onder die Bloed. Die Here sal dit beskerm!”
En daarmee ry hulle en geniet ’n wonderlike naweek.
Sondagaand breek aan en die “lovebirds” kom stop by die huis, bloedrooi gebrand en gesiggies blink gevreet. Maar die vreugde verdwyn onmiddellik toe hulle die huis binnegaan. Alles is omgekeer. Nie net is die geld weg nie, maar ook die TV, selfone en alles van waarde.
Piet val op sy knieë en roep uit, “Here, hoe kon U dit toelaat!”
Arme, dwase ou Piet. Ons het dit mos sien aankom, of hoe?
Dink jy dis reg van hom om die Here te blameer?
Natuurlik nie. Dit was sy eie nalatigheid wat hom in die moeilikheid laat beland het.
Maar as dit so voor-die-hand-liggend is, hoekom doen ek en jy dit ook?
Ek praat natuurlik van die geestelike aspek.
Weet jy dat, wanneer jy sondig, jy ’n deur oopmaak vir die vyand om jou wettiglik aan te val? Jy nooi hom letterlik in — net soos Piet die diewe ingenooi het deur alles wawyd oop te los.
Kyk wat sê Jesus in Joh. 5:14 vir die man wat Hy genees het: “Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: ‘Kyk, jy het gesond geword. Moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie’.”
Ek sê nie dat elke siekte, probleem of ongeluk altyd direk aan sonde gekoppel kan word nie. Maar wat ek wél sê, is dat sonde hierdie dinge lok.
En dan, as dinge skeefloop, het ons die vermetelheid om God die skuld vir ons oortredings te gee.
Jy kyk na pornografie en verstaan nie waarom jou huwelik begin verbrokkel nie; jy steel by die werk en raak woedend as jóú goed by die huis gesteel word. Daar is duisende sulke voorbeelde vir elke liewe sonde!
As die Here vir jou sê om die voordeur toe te maak en jy los dit wawyd oop, kan jy Hom tog nie kwalik neem as die dief insluip nie… Of hoe?
Johannes 10:10: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”





