Rubriek deur Bert Mostert: Is Abdullah Hashem die Antichris?

Lees ook :

Daar is die afgelope week redelik baie opwinding op die internet oor ’n man met die naam Abdullah Hashem Aba Al-Sadiq, wat beweer dat hy die opvolger van Jesus Christus, die apostel Petrus, én die profeet Mohammed is. Hy maak ook die aantyging dat pous Franciskus die valse pous is, en dat hy nou sy plek inneem as die ware een. Baie Christene vra aanlyn of hy dalk die Antichris kan wees. Wat dink jy?  

Met betrekking tot bewerings oor die Antichris, dink ek dis veilig om te sê dat hy dit nie kan wees nie. Hy getuig self dat Jesus die Christus is, maar voeg natuurlik by dat hy Jesus se opvolger is. Ons weet egter dat Jesus geen opvolgers het nie, want Hy lewe vandag nog nadat Hy uit die dode opgestaan het! Hy het wel navolgers, waarvan ek en jy deel kan wees as ons in Sy Naam glo. Abdullah is dus teologies verkeerd deur te sê hy is Jesus se opvolger.

Twee van die belangrike eienskappe van die Antichris, volgens die Bybel, is dat hy:

  1. Sal ontken dat Jesus die Seun van God is, en
  2. Homself in die tempel sal stel as god, sodat mense hom aanbid.

Dit bevestig dus nog meer dat mnr. Abdullah nie die Antichris is nie. Hy beweer trouens self dat die Antichris nie ’n persoon is nie, maar ’n nasie – en hy beskuldig arme Amerika daarvan, wat ’n verrassing!

Hy glo nie net dat hy die ware pous is nie, maar ook die tweede Mahdi, volgens die Islamitiese geloof. Vir my lyk dit asof hy probeer om Christendom en Islam, twee van die grootste gelowe ter wêreld, saam te voeg onder een leier – homself. Of hy dit doen vir geld, roem of invloed, weet ek nie. Dalk is hy opreg in sy voorneme, maar verdwaald in sy verstand.

Wat wel van hierdie hele debakel interessant is, is dat dit ons herinner aan wat die Bybel oor die laaste dae sê: dat daar baie onder Sy Naam sal kom en sê hulle is die Christus, en dat baie valse profete sal opstaan en baie mense sal mislei (Matt. 24:5, 11).

Maar wat my betref: ek sal geen mens wat beweer dat hy die Christus is, glo nie. Ek sal nie links of regs kyk, of na enige plek op aarde nie. My oë sal ek ophef na die hemel, waarvandaan ek my Verlosser verwag – in die wolke!

1 Thessalonisense 4:16–18

Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word, die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief