Rubriek: Toe die Here my van die koedoe se horings gespaar het

Lees ook :

Dit is die dag ná Kersfees, en ek en my ma ry deur die droë, maar pragtige Klein-Karoo op pad na my oom se plaas vir koffie en ’n stukkie tert. Die plan is om teen sesuur weer tuis te wees – die vuur moet aangesteek word en die lamtjoppies gaan nie vanself braai nie.

My ma het my al tot vervelens toe gewaarsku om versigtig te wees vir koedoes wat onverwags voor jou motor inspring, veral by groener gedeeltes van die pad waar daar moontlik water loop. Hulle staan glo tussen die bome en as jy vinnig ry, veral later die middag met jou ligte aan, spring hulle skielik voor jou voertuig in. Dit gebeur blykbaar gereeld en is lewensgevaarlik. As jy gelukkig is, skryf so ’n botsing net jou voertuig af; indien nie, kan ’n mens jou indink wat die alternatief is.

Terwyl ons met die grondpad terug dorp toe ry, kom ons juis by so ’n drif. Ek verminder spoed, soos my ma my geleer het. Voor ons sien ek drie grys figure tussen die bome, reg in die middel van die pad. Met die eerste oogopslag lyk hulle omtrent so groot soos hoenders, maar heeltemal te rond daarvoor. Dit blyk toe patryse te wees. Hulle staan bankvas en blokkeer die pad, vreemd genoeg sonder om vir die voertuig pad te gee.

Ek moes só spoed verminder dat ek byna tot stilstand voor hulle gekom het. Nog voordat ek kon kommentaar lewer op die onwerklikheid van die situasie, spring ’n massiewe koedoe skielik voor die motor in! Met ’n ballerina se grasie het dit lig oor die pad gehardloop, verbasend elegant vir so ‘n groot dier.

Ek en my ma was só geskok dat ons skaars ’n woord kon uiter. Al wat by my mond uitgekom het, was:

“Dankie, Here… dankie, Here!”

Ek glo vas dat ons Vader daardie dag die drie patryse gestuur het om daar in die pad te staan en Sy kinders te beskerm. As hulle nie daar was nie, glo ek die kans is bitter goed dat die koedoe teen ons voertuig sou vasgespring het.

Gedagte vir die dag

God se beskerming is nie altyd dramaties of hoorbaar nie – soms staan dit stil en stilletjies in die vorm van drie patryse op ’n grondpad.

“Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.”

Psalm 136:1

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief