Rubriek: Die geheime van die natuur

Lees ook :

Het jy al die wonderlike ekologiese balans in die natuur gesien? Dis asof alles ingeweef is in een groot geheel, en elke deel het die ander nodig om sin te maak van alles. Kom ek gee ’n paar voorbeelde:

Bye en blomme

Bye versamel nektar en stuifmeel van blomme vir voedsel. Terwyl hulle dit doen, dra hulle stuifmeel van een blom na ’n ander, wat plante toelaat om voort te plant. Die bye kry voeding, en die plante word bestuif.

Voëls en vrugtebome

Voëls eet vrugte en dra die sade na nuwe plekke deur hul mis. Dit versprei die bome na nuwe gebiede waar hulle kan groei.

Bome en mense/diere

Deur fotosintese absorbeer bome koolstofdioksied uit die lug en stel suurstof vry. Mense en diere asem daardie suurstof in en asem koolstofdioksied uit, wat ’n natuurlike harmonie skep waar elkeen die lewe van die ander ondersteun.

Of jy nou glo dat God die aarde en alles wat ons ken ’n paar duisend jaar gelede geskep het, of oor ’n paar biljoen jaar — dit is vandag nie die punt nie. Maar dat God dit wel geskape het, is belangrik. Hy het ons gemaak saam met die natuur, saam met hierdie pragtige skepping.

In die dae van die tuin van Eden, of selfs ná die sondeval, was daar nie rekenaars, geboue, vliegtuie en tegnologie soos ons vandag die wêreld ken nie. Tog het die mens oorleef. Ek glo nie daar is enigiets fout met tegnologie nie, en ek dank die Here vir die gemak wat dit vir ons bring. Maar tog is baie van hierdie dinge wat ons geniet nie natuurlik nie.

Soos ek ouer word, besef ek al hoe meer hoe nader jy aan die natuur beweeg, hoe beter. Nie net vir jou siel nie, maar vir jou gesondheid ook. Vars buitelug, son op jou vel vir vitamien D en melatonienproduksie, gras onder jou voete om jou te grond en jou liggaam te laat ontspan, troeteldiere wat stres verminder en jou immuunstelsel versterk. Yskoue seewater, vars reënwater, bome, vrugte, metale — en nog talle voorbeelde wat jy self kan gaan navors op jou tyd.

God is goed, en Hy het alles goed gemaak. En al is hierdie skepping aan die verderf onderwerp as gevolg van die sonde, is die fondasie nog steeds goed.

So kom ’n bietjie uit die huis uit. Sit die selfoon neer en skakel die TV af. Trek jou skoene uit en gaan loop in die veld — en proe en sien die goedheid van God.

God se skepping werk in harmonie — en ons harte vind rus wanneer ons weer deel daarvan word.

Genesis 1:31

“Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief