Rubriek: Hoe een leuen jou lewe verander

Lees ook :

’n Vriend en medegelowige wat ek al my hele lewe ken, Gerrie van Niekerk, het jare gelede in my restaurant as kelner gewerk. Een aand bedien hy ’n tafel van tien mense en bring die bestelling vir my in. Ek vra hom of hy gevra het of iemand dalk ’n slaaitjie of bygereg saam met hul hoofgereg wil hê, en hy huiwer vir ’n oomblik.

Ek kon sien hoe die ratte in sy kop draai – hy weet ek gaan nie gelukkig wees as hy nie gevra het nie.

Na ’n kort stilte bieg hy: hy het vergeet, en hy sê jammer. Hy kon net sowel gelieg het, ek sou nie geweet het nie. Dis nie asof ek self by die tafel kon gaan vra nie.

Daardie aand was ek nie kwaad vir hom nie. Ek kon dit nie eens oor my hart kry om hom te berispe nie. Inteendeel, my respek en vertroue in hom het gegroei.

Later vra ek hom hoekom hy nie eerder gelieg het nie. Sy antwoord was eenvoudig: hy is ’n Christen en hy jok nie.

Toe ek later daardie jaar tot bekering kom, het dit my bygebly. Ek het my voorgeneem om ook in die waarheid te wandel en nie te jok nie.

Het ek sedertdien al ’n wit leuentjie vertel? As ek “nee” sê, jok ek nou vir jou! Ek is seker ek het al iewers geglip, maar nie doelbewus nie. Tensy ek iemand se been trek… dan lieg ek soos ’n weervoorspeller! En natuurlik sal ek ná die tyd verduidelik dat ek net ‘n grap gemaak het en dit nie die waarheid was nie. Maar tog is dit ook nie reg nie, ek sal moet verbeter.

Ongelukkig sien ek deesdae hoe baie mense jok, soms heeltemal onnodig. As ek moet raai, het dit vir party al so ’n gewoonte geword dat hulle dit nie meer kan help nie. En al kan ’n mens redeneer dat ’n “wit leuentjie” aanvaarbaar is, dink net ’n bietjie dieper oor wat dit werklik beteken.

Aan die een kant het ons die Waarheid. Die Bybel leer dat dit vir God onmoontlik is om te lieg. Jesus sê van Homself dat Hy die Weg, die Waarheid en die Lewe is. God praat nie net die waarheid nie – Hy ís die waarheid. Die konsep sou nie eens kon bestaan sonder Hom nie.

Aan die ander kant staan ons vyand, Satan, van wie die Woord sê hy is die vader van die leuens.

As jy dus jok – of dit nou ’n “wit leuentjie” of blatante misleiding is – volg jy steeds die voorbeeld van die vader van leuens. Dit is wie hy is. Is dit wie jy wil wees?

Of wil jy lyk soos jou Hemelse Vader, een wat in waarheid wandel en nie lieg nie?

Hier volg ’n paar treffende aanhalings van Jordan Peterson wat ek graag wil deel:

“As jy klein leuens vertel, verswak jy jou karakter. As jy groot leuens vertel, vernietig jy dit.”

“Wat jy sê, word jou werklikheid. As jy lieg, verwring jy die struktuur van die werklikheid self.”

“’n Leuen maak die toekoms slegter.”

“Die ergste van alle leuens is dié wat jy vir jouself vertel.”

“As jy jouself verraai, as jy onwaarhede praat, verswak jy jouself.”

“Elke leuen wat jy vertel, bring jou nader aan chaos.”

Liewe leser, ek smeek jou om vandag hierop ag te slaan. Jy mag dalk jok en voel dit het jou gehelp op die oomblik, maar daar is altyd ‘n duurder prys wat jy later gaan betaal. Vat eerder jou pakslae op daai oomblik, as om te wag totdat dit jou in die toekoms inhaal!

“Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

— Johannes 8:32

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief