Rubriek: ’n Kerk vol foute

Lees ook :

Ek was Sondagoggend vir die eerste keer hierdie jaar in die kerk. Roerende lof en aanbidding, ’n impakvolle preek en tussen medegelowiges wat saam met my een Vader deel. Dit was ’n suksesvolle diens en só goed vir die siel.

Maar…

Dit was ver van perfek af. Gedurende die aanbidding het die musiekleier hier en daar ’n verkeerde vers gesing, of soms geklink of hy sy eie woorde opmaak. Ander kere het die mediaspan die verkeerde skyfie op die projektor geplaas, maar dit darem weer reggemaak toe die gemeente begin hakkel. Die pastoor ruil so nou en dan woorde om wanneer hy uit die Bybel lees, maar ons almal weet tog wat gesê word, want jy lees mos saam. En ongelukkig dryf daar so nou en dan die reuk van ’n brak asem verby – net wanneer ek myself begin geniet – en dan vergeet ek weer heeltemal wat gesing of gesê word.

Soos jy kan sien, is ons kerk ver van perfek af!

Maar toe dink ek aan my eie lewe, en hoeveel keer ék die merk mis. Terwyl ek saam sing tydens die diens, besef ek weer dat geen mens perfek is nie – net Jesus alleen. En dit is so inspirerend om te sien hoe almal saamtrek en hul bes doen om God te verheerlik, ten spyte van al die foute. Hulle hou net aan.

Is dit nie my en jou lewe nie? Ons struikel dikwels. Ons maak groot en klein foute. Ons praat verkeerd, doen verkeerd en mis die merk. Maar dis nie die einde van die wêreld nie, solank ons net aanhou, solank ons vashou aan die Begin en Voleinder van ons geloof, Jesus Christus.

Moet ons die heiligmaking nastreef? Sonder twyfel.

Moet ons strewe om soos Hy te wees? Absoluut.

Maar as ek my hand aan die ploeg geslaan het, kyk ek nie heeltyd agter my nie. Ek gaan vorentoe, met my oë gevestig op my Redder.

God bou nie Sy kerk met perfekte mense nie, maar met gewillige harte wat, ten spyte van hul foute, aanhou om Hom te volg.

Spreuke 24:16  Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk. 

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

2 Responses

  1. Welkome gesprek van Bert Mostert, dankie. ‘n Kerk is immers die byeenkoms van gelowiges in Jesus Christus want “kerk” beteken tog “wat aan die Here behoort”. Die klem is “saam sing, saam aanbid, deel wees van die erediens”. My kerk het ‘n lesingslokaal geword: MS Powerpoint, Youtube, MWatt klankstelsels, kitch beligting en simboliek, ens. Waar ek is, word die Here soms uitgenooi om saam met ons die “geleentheid” te vier. Ons het vergeet dat Hy die Rede, die Inisiatief, die Dinamika, die Hoof is van die kerk.
    Bert, ek sou graag saam met jou wil kerk toe gaan.

  2. Wow Ernst, dankie vir die terugvoering. Dit sal wonderlik wees as jy ons kerk kom besoek! Ek woon op Springbok in die hartjie van die Namakwaland. Weet nie hoe ver dit van jou is nie?

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief