Suid-Afrika se uitstalling by die Chelsea-blommeskou het ’n goue medalje, ’n toekenning van uitnemendheid (Best Exhibit in the Great Pavilion) en ’n toekenning vir ’n nuwe ontwerp gewen.
Fynbos is Dinsdag by die blommeskou in Londen uitgestal. Dit het die diversiteit van die Kaapse blommeryk verteenwoordig. Suid-Afrika het die afgelope vier jaar nie aan die blommeskou deelgeneem nie, maar het vanjaar met mening teruggekeer. Dit is die 38ste goue medalje wat deur Suid-Afrika sedert die land se eerste deelname in 1976 ingepalm word.
Die blommeskou word jaarliks deur die Royal Horticultural Society aangebied. Koning Charles en die koningin, Camilla, het die skou geopen.
Leon Kluge, Keith Kirsten, Michael Lutzeyer en Merinda Nel het deel van die span uitgemaak wat Suid-Afrika se uitstalling behartig het.
SA maak baie staat op fynbos-snyblomme as uitvoerproduk. Die bedryf verskaf werksgeleenthede veral aan diegene in landelike gebiede.
Bronne: RSG, Good Things Guy, Landbou, Times Live

