Die ASA Nasionale Landloopkampioenskappe het op 5 September by Curro Hazeldean in Pretoria verskeie sterk vertonings en verrassings opgelewer.
’n Rekordgetal van 4 620 deelnemers uit 18 spanne het aan die kampioenskap deelgeneem, met Atletiek Gauteng-Noord (AGN) wat weer die grootste span ingeskryf het.
Die baan het atlete behoorlik getoets, met verskeie hindernisse, waaronder die sogenaamde “Curro Creek”-watergat, ’n boomstomp en moddergedeeltes. Die uitdagings is ook daarop gemik om Suid-Afrika se topatlete vir internasionale landloopkompetisie voor te berei.

Eerste titels by die SA landloopkampioenskappe
In die senior 10 km-wedlope het Zenzile Pheko van Sentraal Gauteng Atletiek die manswedloop gewen, terwyl Nicola Jansen van AGN die vroue-afdeling ingepalm het. Dit was albei atlete se eerste senior nasionale landlooptitels.

Karabo More van AGN was een van die uitblinkers van die kampioenskap. Sy het die senior vroue se 4 km-wedloop gewen en haar titel vir die tweede agtereenvolgende jaar verdedig. Minder as 30 minute later het sy ook die 2 km-wedloop gewen om dubbelgoud te verower.

Sentraal Gauteng Atletiek het uiteindelik bo-aan die medaljetabel geëindig met 87 medaljes, met AGN in die tweede plek.
Foto’s: Louise Esterhuizen (Lulu’s Sport Pics)