THAILAND. – Charl Senekal (38), ’n Suid-Afrikaner wat die afgelope 10 jaar saam met sy vrou Nadine, in Thailand woon, veg tans om sy lewe in ’n hospitaal in Bangkok. Charl ly aan ernstige hart- en nierprobleme ná hy in Julie 2025 met dubbele longontsteking en ’n gevaarlike virus in die hospitaal opgeneem is.
Nadine, Charl se vrou, sê aan Nuusflits hy het ook verskeie beroertes gekry en sy toestand het herhaaldelik versleg ondanks behandeling in intensiewe sorg. Dokters het nou bevestig dat hy dringend ’n hartklepvervanging benodig.
Nadine sê alhoewel Thailand se mediese diens en dokters fantasties is, weet hulle nie hoe dit vandag met Suid-Afrika sou vergelyk nie, aangesien hulle te lank gelede laas in die land was. Charl is te swak om te vlieg en sal voorlopig in intensiewe sorg bly, terwyl sy toestand gemonitor word. Die laaste diagnose van die dokers het bevestig dat Charl se niere ook nie na wense die hormoon vervaardig wat help om rooibloedselle te maak nie.
“Ons droom is om Charl ’n kans op herstel en ’n normale lewe te gee, maar die operasie is nie volledig gedek nie.” ’n Skarebefondsingsprofiel is geregistreer sodat die operasie hopelik vinnig sal kan plaasvind. Van die beoogde R250 000 is daar reeds meer as R100 000 vir Charl ingesamel.
Volgens Nadine het hulle lank in Suid-Afrika gewoon, maar sedert hulle Thailand toe verhuis het, het hulle hulle lewe en werk daar suksesvol opgebou. Sy bedank almal vir die ondersteuning wat die gesin tot dusver ontvang het.
Druk hier om meer te lees.





