Irene-Louise van Wyk, sangeres en sosialemedia-inhoudskepper, moes haar optrede by die InniBos Laeveld Nasionale Kunstefees afstel, nadat sy komplikasies ná ‘n “tummy tuck” opgedoen het. Dit is reeds ‘n maand na die prosedure. Sy het Saterdag haar volgelinge meegedeel dat sy weer teater toe geneem is nadat vog rondom haar buik opgebou het. Ná die prosedure, waartydens twee dreinerings ingesit het, het sy gesê dit het goed verloop en dat sy nie baie pyn ervaar nie.
Van Wyk het Vrydag op Facebook gesê sy het in die vroeë oggendure met erge kouekoors wakker geword en later ook ‘n aanhoudende droë hoes ontwikkel. Nadat sy begin opgooi het, is sy na die hospitaal se ongevalle-eenheid. Volgens haar het dokters vasgestel dat sy koors het en dat haar infeksietelling hoog is. Sy is daarna in die hospitaal opgeneem, waar haar chirurg gesê het dat sy nie na Mbombela mag reis of by InniBos mag optree nie. Hy het ook aangedui dat sy minstens vyf dae in die hospitaal sou moes bly.
Van Wyk sê sy het alles in haar vermoë gedoen om steeds by die kunstefees op te tree en het selfs gevra of sy net een liedjie kon sing. Haar chirurg het egter beklemtoon dat haar gesondheid eerste moet kom en haar aangeraai om nie die risiko te neem nie. Sy het gesê die teleurstelling was groot, veral omdat sy die afgelope paar dae goed gerus en al haar energie gespaar het in die hoop dat sy steeds by InniBos sou kon optree.
Van Wyk sê ook sy het sedert haar operasie baie negatiewe kommentaar op sosiale media gekry. Sy het mense wat nie in haar plasings belangstel nie, versoek om bloot verby te blaai eerder as om kwetsende opmerkings te maak. “Voor julle iemand oordeel, weet net hulle gaan deur hul eie goed. Wees net vriendelik. Dis nie so moeilik nie,” het sy geskryf.
Sy het om verskoning gevra aan haar ondersteuners en die organiseerders van InniBos dat sy nie vanjaar by die fees kon optree nie en gesê sy hoop sy kry weer in die toekoms die geleentheid om deel daarvan te wees.





