Santaco waarsku teen onwettige immigrasie-optrede

Lees ook :

Foto: SANTACO

Die Suid-Afrikaanse nasionale taxiraad (Santaco) het ’n sterk beroep gedoen op wettige immigrasiehervorming, ná toenemende openbare debat en beplande betogings. Dit gaan oor die verwydering van ongedokumenteerde buitelandse burgers in Suid-Afrika.

Mmatshikhidi Rebecca Phala, nasionale woordvoerder van Santaco, sê daar is toenemende kommer oor moontlike massa-optrede wat nie net openbare orde kan beïnvloed nie, maar ook vervoerbedrywighede en ekonomiese stabiliteit ernstig kan ontwrig. Die organisasie beklemtoon dat hulle, as ’n wettige organisasie wat een van die land se grootste openbare vervoersektore verteenwoordig, die beginsel steun dat immigrasie slegs deur wetlike en gereguleerde prosesse moet plaasvind. Die organisasie sê effektiewe grensbeheer en behoorlike dokumentasie is noodsaaklik om vertroue in die land se migrasiestelsel te behou.

Die organisasie waarsku egter dat enige oproepe of optrede wat die beweging van mense en goedere belemmer, soos die blokkering van roetes of ontwrigting van taxidienste, ernstige gevolge kan hê vir werkers, studente, pasiënte en sakebedrywighede wat daagliks op vervoer staatmaak. Santaco sê die taxibedryf is ’n sleutel- ekonomiese skakel, nie net in Suid-Afrika nie maar ook in die SADC-streek, waar dit onder meer toerisme ondersteun. Enige onstabiliteit kan dus ’n negatiewe uitwerking hê op beleggersvertroue, werkgeleenthede en plaaslike gemeenskappe.

Die organisasie doen ’n beroep op alle rolspelers om hul griewe en eise deur wettige, vreedsame en konstruktiewe kanale te hanteer. Hulle moedig ook die regering aan om grensbestuur en immigrasie-administrasie verder te versterk en te verseker dat bestaande wette konsekwent toegepas word. Santaco sê dat Suid-Afrika se ekonomiese stabiliteit, sosiale samehorigheid en streeksamewerking afhanklik is van ’n veilige en funksionerende vervoerstelsel en die ordelike bestuur van migrasie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief