Brekende Nuus
Misdaad

Ondersoek ná polisiehond in hok vassit

Foto's: Ian Cameron

GAUTENG. – Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het ‘n senior offisier aangestel om die omstandighede van die polisiehond Sky se besering te ondersoek. Die dienshond is by Roodeplaat-opleidingsentrum beseer. Ian Cameron, DA-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, het strafregtelike klagtes gelê.

Volgens brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, is die polisie bekommerd oor Sky se besering. Sy is een van die polisie, wat saam met lede dien en aan hul sorg toevertrou is. Haar welstand bly ‘n prioriteit en sy ontvang tans die nodige sorg en aandag.

Sky is nie meer operasioneel nie en het ‘n geskiedenis van ontsnappings uit die hondehokke by haar vorige basis in Limpopo. ‘n Besluit is gevolglik geneem om haar by die veterinêre fasiliteit te akkommodeer, terwyl reëlings getref is vir haar plasing by ‘n geskikte nuwe eienaar. Die skenkingsproses was nog aan die gang toe die voorval plaasgevind het. Ondersoek sal ingestel word oor haar besering, akkommodasie, toesig, versorging en die nakoming van toepaslike prosedures en standaarde. Die polisie verwelkom die ondersoek en sal ten volle saamwerk. Dit sal voortydig wees om nalatigheid of wangedrag toe te skryf voordat al die feite vasgestel is. Die onmiddellike fokus bly op Sky se herstel en om te verseker dat sy die sorg ontvang wat sy nodig het.

Cameron sê Sky, ’n Belgiese herdershond wat as ’n brandstigtingsopsporingshond vir die polisie gewerk het, het glo ernstige “hokangs” en die bestuur is glo herhaaldelik gewaarsku dat voortgesette aanhouding ’n risiko vir haar ingehou het. Cameron sê Sky is Maandag ernstig beseer nadat haar been in die hok se hek vasgesit het. Sy het verskeie frakture opgedoen, insluitend ’n oop fraktuur en snye aan haar gesig en been. Sy het baie bloed verloor en is vir noodbehandeling na Onderstepoort geneem. Cameron het die saak na die NDBV en die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad verwys. Hulle is versoek om die fasiliteit, hokveiligheid, toesig ná ure, veeartsenykundige standaarde en die optrede van diegene wat vir Sky se versorging verantwoordelik was, te ondersoek.

Cameron sê die fokus is daarop om vas te stel of bestuudie r waarskuwings geïgnoreer en nie hul verantwoordelikheid teenoor die dier nagekom het nie. Hy sê indien die bewyse vervolging regverdig, moet niemand weens hul rang beskerm word nie.