Sasol het ’n groot stap geneem in die land se skuif na skoner energie met sy Natref-raffinadery wat die eerste in Afrika geword het om ’n volhoubaarheidsertifisering vir sekere brandstowwe te kry. Die aanleg in Secunda het ook sertifisering vir volhoubare chemiese produksie ontvang.
Sarushen Pillay, uitvoerende vise-president by Sasol, sê dit wys die maatskappy kan nou met sy bestaande aanlegte volhoubare produkte op groot skaal vervaardig. Die sertifisering volg ná ’n onafhanklike oudit deur TÜV SÜD. Die proses sluit in dat brandstof soos vliegtuigbrandstof en diesel uit herwinde olie vervaardig word, wat minder skadelik vir die omgewing is. Volgens Sasol beteken die sertifisering hul produkte voldoen aan internasionale standaarde, wat dit makliker maak om dit plaaslik en oorsee te verkoop. Die maatskappy sê dit help ook Suid-Afrika se oorgang na skoner energie en skep nuwe geleenthede vir groei in die toekoms.
Walter Reithmaier, uitvoerende hoof van TÜV SÜD se nywerheid- en infrastruktuurafdeling, beklemtoon die belang van onafhanklike sertifisering: “Wêreldwye erkende sertifiseringskemas soos ISCC PLUS, saam met onpartydige oudits wat deur onafhanklike derde partye soos TÜV SÜD uitgevoer word, is noodsaaklik om die volhoubaarheid, naspeurbaarheid en vermindering van kweekhuisgasvrystellings van produkte en prosesse te bewys. Deur ons onpartydige sertifisering verseker ons deursigtigheid en bou ons vertroue onder rolspelers regdeur die hele voorsieningsketting – van verskaffers tot vervaardigers tot verbruikers.”
Druk hier om meer te lees.





