Schalk Burger (Sr.) gevonnis oor SARS-belastingversuim

Lees ook :

Schalk Burger (Snr) gevonnis oor SARS-belastingversuim
Foto: Schalk Burger Snr (https://www.welbedacht.co.za/)

Schalk Burger (senior) is in die Paarl-landdroshof skuldig bevind en gevonnis vir SARS-belastingversuim.

Schalk Willem Petrus Burger (69), voormalige Springbokrugbyspeler en sy wynmaatskappy, Welbedacht Wines (Edms) Bpk., is in die Paarl-landdroshof skuldig bevind en gevonnis vir die versuim om verskeie belastingopgawes aan SARS, insluitend BTW, LBS en inkomstebelasting, in te dien. Burger is op 14 aanklagte skuldig bevind, wat sy versuim insluit om ’n BTW201-opgawe vir tydperk 02/2023, ’n EMP201-opgawe vir tydperk 03/2023, asook IT12-inkomstebelastingopgawes vir die tydperk 2011 tot 2022, in te dien.

Hy is met R6 000 of 12 maande gevangenisstraf per aanklag beboet, waarvan R2 000 of vier maande gevangenisstraf vir vyf jaar opgeskort is. Dit beloop ’n betaalbare boete van R56 000, of 112 maande gevangenisstraf, met ’n verdere R28 000 of 56 maande opgeskort vir vyf jaar op spesifieke voorwaardes. Op sy versoek is die boete uitgestel en hy is gelas om die R56 000 in paaiemente van R6 000 per maand te betaal, met ’n laaste paaiement van R8 000.

Die beskuldigde se seun, Christiaan Francois Burger, is verlede maand op 21 Julie 2025 ook skuldig bevind en gevonnis op 12 aanklagte van versuim om sy persoonlike IT12-inkomstebelastingopgawes vir die tydperk 2011 tot 2022 in te dien. Die 40-jarige is gevonnis tot ’n betaalbare boete van R48 000 of 96 maande gevangenisstraf, en ’n verdere R24 000 of 48 maande gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar op sekere voorwaardes. (Hy was ook ’n direkteur van Welbedacht Wines (Edms) Bpk.)

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NPA), sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die beskuldigde het ’n pleit- en vonnisooreenkoms ingevolge Artikel 105A met die Staat gesluit. Die hof het die ooreenkoms bekragtig en die beskuldigde ooreenkomstig skuldig bevind en gevonnis. Volgens die ooreenkoms het die beskuldigde erken dat Welbedacht Wines (Edms) Bpk vir BTW geregistreer was (met aanspreeklikheidsdatum 1 September 2004), asook vir BSJV (met aanspreeklikheidsdatum 1 Januarie 2010) by die Paarl-kantoor van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), met Burger as die openbare beampte vir al die belastingverpligtinge teenoor SAID. Burger het nagelaat om die opgawes namens die maatskappy in te dien.

Verder was Burger in sy persoonlike hoedanigheid sedert 1979 vir inkomstebelasting geregistreer by die Paarl SAID-kantoor. Ná sy suksesvolle registrasie vir e-indiening in 2011, het hy versuim om sy IT12-inkomstebelastingopgawes vir die belastingjare 2011 tot 2022 in te dien. Dit was ten spyte van die SAID se beste pogings om alle belastingpligtiges aan te moedig om hul inkomstebelastingopgawes in te dien. Dit was eers ná die instel van ’n strafvervolging en sy dagvaarding om in die hof te verskyn dat hy al die uitstaande opgawes rakende homself en sy maatskappy ingedien het. Albei is tans belastinggehoorsaam.

“Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom hierdie vonnis, aangesien dit ’n sterk afskrikboodskap op verskeie vlakke stuur. Met die inkomstebelastingseisoen tans aan die gang, is dit ’n duidelike boodskap dat die versuim van individue en regspersone om hul inkomstebelastingopgawes in te dien nie geduld sal word nie. Dit is ’n ernstige oortreding wat die fiskus negatief beïnvloed. Suid-Afrikaanse burgers word ook direk geraak indien belastingpligtiges nie hul opgawes indien vir belasting wat bereken moet word nie,” sê Ntabazalila.

Die eerste stap vir belastingpligtiges om die inkomstebelasting wat hulle verskuldig is, te betaal, is om hul inkomstebelastingopgawes in te dien. Soos die vonnisse in hierdie sake toon, sal versuim om hieraan te voldoen, met swaar boetes gepaardgaan, met gevangenisstraf as alternatief, sowel as opgeskorte boetes en gevangenisstraf.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief