HAÏTI. – Agt mense, insluitend ’n Ierse sendeling en 3-jarige kind, is vermis nadat gewapende verdagtes Sondag die Saint-Hélène-kinderhuis in Kenscoff, Haïti, bestorm het.
Lees ook: Benjamin Netanyahu wil glo ‘Gasa ten volle beset’
Sewe werkers, insluitend die sendeling Gena Heraty, en een kind (3) is Sondag van die kinderhuis, wat 240 kinders huisves, af weggevoer. Heraty is in 2013 beseer in ‘n soortgelyke aanval op die tehuis, waartydens ‘n kollega van haar doodgemaak is.
Volgens die burgemeester van Kenscoff, Massillon Jean, het aanvallers Sondagmiddag by die kinderhuis ingebreek “sonder om te skiet”. Hy het gesê dit was “’n beplande aanval”. Jean het gesê die aanvallers het deur ’n muur gebreek om by die eiendom in te kom en is na die gebou waar Heraty gebly het.
Simon Harris, ‘n Ierse minister, het gesê “intensiewe aksie” is aan die gang om Heraty, die kind en haar kollegas veilig terug te kry.
Bronne: Euronews, CNN, BBC