Deur Conette le Roux vir LiG
“Ons het die eerste goeie nuus in maande en maande ontvang. Dit is amper moeilik om dit te aanvaar. Die Here is so getrou.”
So gesels sendeling Michele Potgieter gister vanuit Tel Aviv, die hoofstad van Israel, waar haar dogter Mari-Alena spesiale behandeling vir maagkanker ontvang. Dokters in Suid-Afrika kon niks meer vir haar doen nie. Sy veg die afgelope sowat sewe maande teen Burkitt se limfoom, ’n rare maagkanker.
Vroeër die dag moes Michele en haar dogter saam met ander pasiënte in die bomskuiling onder die Sheba Medical Centre wegkruip tydens ’n lugaanval vanaf Iran, maar later het hulle die goeie nuus ontvang dat die 23-jarige Mari-Alena uiteindelik ontslaan mag word.
“Haar dokter het haar ondersoek en is tevrede met haar bloedtellings. Die kankertelling is af,” het Michele vertel.
LEES OOK: Sendeling oor dogter se maagkanker: ‘God sal deur haar getuienis verheerlik word’
Die familie het ’n skarebefondsinginisiatief van stapel gestuur wat dit moontlik gemaak het vir ma en dogter om die afgelope maand in Israel te wees sodat Mari-Alena CAR-T-selterapie kon ontvang. Dié spesifieke terapie is in Suid-Afrika beskikbaar, maar nie vir Burkitt se limfoom nie.
CAR-T-selterapie is ’n vorm van immunoterapie wat beteken dat die pasiënt se eie selle geneties verander word om sodoende die kankerselle aan te val. Volgens Michele oorleef slegs 50% van pasiënte die terapie omdat die newe-effekte so verskriklik is. “Toe Mari-Alena begin newe-effekte wys het die dokter gewaarsku dat sommige pasiënte lank in ’n koma gaan terwyl sommige pasiënte selfs sterf. Daar was een dag wat Mari-Alena nie kon praat of reageer nie. Dit was verskriklik erg maar prys die Here dat sy nie in ’n koma ingegaan het nie, ek dink sy het lig afgekom van die newe-effekte,” het Michele dankbaar gesê.
Michele het in 2023 haar aangrypende persoonlike getuienis met LiG gedeel nadat haar man aan Covid-19 oorlede is.
Wanneer Michele terugkyk kan sy byna nie glo wat hulle die afgelope ruk nog deurstaan het nie. “In Suid-Afrika is Mari-Alena deur ses maande se chemo, bestraling, verskriklike pyn en elke keer moes ons hoor dat die kanker verdubbel het. Sy het soveel pyn gehad dat ek my oë langs haar uitgehuil het.”
En in Israel moes die brawe ma en dogter boonop te midde van ’n oorlog kalm probeer bly sodat Mari-Alena haar terapie kon ontvang. Michele vertel van die verskriklike nag sowat ’n week gelede toe daar soveel bomme geval het en Mari-Alena te swak was om na die bomskuiling te gaan. Dit was net Michele en Mari-Alena op die vloer van die hospitaaleenheid. Sy vertel: “Mari-Alena het moeilik asemgehaal en haar bloeddruk en hartklop was te laag.”
Maar Michele getuig dat God hulle veilig en rustig gehou het: “Wanneer die missiele ontplof ruk dit aan jou hart. Maar die Here se vrede is groter as dit. In sy liefde is daar nie vrees nie. God gee sy liefde in die plek van vrees. Hy is ’n pa wat ons met ’n volmaakte liefde liefhet. Al gaan jy deur die dal van doodskaduwee is God by jou.”
Michele en Mari-Alena gaan tans tuis in ’n Airbnb-blyplek naby die hospitaal en Mari-Alena word Donderdag weer ondersoek om te hoor hoe die pad vorentoe lyk. Daar sal ook ’n CT-skandering gedoen word om te sien hoeveel die kanker gekrimp het.
Hoewel die dokter tevrede is met hoe Mari-Alena gereageer het op behandeling, verduidelik Michele dat sy nog baie swak is. “Mari-Alena weeg 39 kg. Sy kan nie loop sonder dat ek my arms om haar hou en haar help nie. As sy badkamer toe was voel sy asof sy ’n maraton gehardloop het.
“Ek wil vra vir gebed vir Mari-Alena se herstel en die pad vorentoe. Ons uitgang uit Israel is net in God se hande.”
Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





